Nathan haal topdrie in Italië; goud vir Pahl en Young

Triathlon
Die Namibiese driekampatlete het teen die heel bestes hul man gestaan.
Tielman Van Lill
Vier van die Namibiese Triathlonvereniging se atlete naamlik Cheryl Young, Julika Pahl, Karin Brockmann en Nathan Chase het die afgelope naweek in Molveno, Italië, uitstekende resultate by die Xterra-wêreldkampioenskap in hul onderskeie afdelings behaal.

Meer as 800 van die wêreld se voorste velddriekampatlete het by die kus van Lago di Molveno in Trentino, Italië, saamgetrek wat omring word deur die majestueuse Brenta Dolomites om aan die Xterra-wêreldkampioenskap deel te neem.

Die driekamp was 'n harde toets van uithouvermoë, vasberadenheid en ambisie – nie net teen hewige mededinging nie, maar ook die onvoorspelbare kragte van moeder natuur.

Die byeenkoms het met ‘n dagtemperatuur van 14 grade Celsius vir die 750 meter swemskof begin, waarna die atlete 32 kilometer bergfiets gery en ook 10 km gedraf het.

Julika Pahl het 'n fenomenale resies beleef. Sy het algeheel tweede in 3 ure 32 minute 40 sekondes geëindig en ‘n goue medalje in haar ouderdomskategorie (30-34 jaar) opgeraap.

Cheryl Young het ook haar wedloop oorheers en ‘n goue medalje in haar ouderdomsgroep (65-69 jaar) in 5:09:56 huis toe gebring.

Karin Brockmann het deur 'n tegniese probleem met haar fiets geworstel, maar het geweldige vasberadenheid getoon en in die sewende plek (5:49:56) in haar ouderdomsgroep (60-64 jaar) geëindig.

In die junior mansafdeling (16-17 jaar; swem 750 m, bergfietsry 16 km, draf 5 km) het Nathan Chase 'n indrukwekkende bronsmedalje verower toe hy derde in 'n uiters mededingende veld van 99 atlete geëindig het.

Finlay Goodman van Brittanje was eerste in 1:23:58, gevolg deur Antony Clayton van Suid-Afrika tweede met 1:24:21 op die stophorlosie. Chase se tyd was 1:24:41.

[email protected]