Namibië gewilde oefenbestemming vir Europeërs

Triathlon
Nadat die Duitse Triathlon-unie verlede jaar ook 'n groep hierheen gestuur het, is sy atlete opnuut terug vir nog 'n oefenkamp.
Tielman Van Lill
’n Elite-groep van veertien driekampatlete van die Duitse Triathlon-unie (DTU) is tans besig om in Windhoek vir hul internasisonale seisoen te slyp.

Die besoekers het hul voorbereiding op 6 Februarie in Windhoek afgeskop, wat oor die afgelope jare ’n gewilde oefenbestemming vir buitelandse atlete geword het. Weens die hoofstad se hoogte bo seespieël, die matige klimaat en die Namibiese dollar se gunstige wisselkoers met die euro, het Namibië tevore reeds verskeie buitelandse sportkodes uit veral Europa gelok.

Dié Duitse groep is topatlete met heelwat internasionale ondervinding en hul besoek is uitsluitlik daarop gemik om hulle optimaal vir 2024 voor te berei. Veral die DTU-triathlonatlete wat aan die Olimpiese spele gaan deelneem, sal uit die besoek baat, indien vorige data ’n akkurate aanduiding is.

Hul oefenkamp duur tot 5 Maart voordat die groep na die Verenigde Arabiese Emirate vertrek. Die driekampers se eerste kompetisie van die Wêreldkampioenskapsreeks vir 2024 vind op 8 Maart in Abu Dhabi plaas.

Die Duitse gaste was ook verlede jaar in Windhoek vir ’n oefenkamp. Die atlete word deur Steffen Justus, federale basisafrigter in Saarbrücke, gelei en word deur Louis Delahajie in ’n adviserende hoedanigheid vir die DTU ondersteun.

Thomas Moeller, die nasionale hoofafrigter, sal in die hoofstad ’n goeie indruk van die atlete se peil kan kry.

Die Duitse nasionale para-afrigter, Tom Kosmehl, brei terselfdertyd vir Martin Schulz en Max Gelhaar. Schulz en Gelhaar is ’n sterk medaljehoop by die Paralimpiese Spele wat in dieselfde tydperk as die Olimpiese Spele in Parys plaasvind. Die trio sal tot aan die einde van vandeesmaand in die land wees.

Schulz (33), wat sonder ’n linkervoorarm gebore is, het sy eerste goue medalje in PT4-triathlon by die 2016 Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, verower en in 2021 sy titel suksesvol met goud in Tokio verdedig.

[email protected] / Bron: triathlondeutschland.de