D2 Training Squad ploeg terug in gemeenskap

Veldlope en tweekamp
Tielman Van Lill
Die Windhoekse fiksheidsklub D2 Training Squad het onlangs saam met CB Enterprises en die hulp van Mannie’s Bike Mecca (MBM) ‘n tweekampkompetisie sowel as ‘n veldloop by Towerbos wes van die hoofstad aangebied.

Towerbos is ‘n pragtige nuwe ontwikkeling aangrensend tot die Daan Viljoen-pad. Dié bospaadjies is daar vir bergfietsryers en drawwers wat daarvan hou om in die natuur te hardloop.

Mannie Heymans, driemalige Olimpiese ryer en fietswinkleienaar, is saam met Jacques van Greyvensteyn in beheer van die geriewe en ontwikkeling.

Die idee agter die byeenkoms by Towerbos was om geld vir die Step out of Poverty through Education, Encouragement and Support-organisasie (SPES) in te samel.

Adelé de la Rey van D2 Training Squad sê dit was nie die laaste keer dat Towerbos sy vere vir so ‘n byeenkoms reg geskud het nie.

“Die dag was ‘n groot sukses en ons beplan om dit ‘n jaarlikse instelling te maak. Daar was verskeie afstande vir drawwers beskikbaar wat ‘n 2.5 kilometer, 5 km en 10 km-roete insluit.

“Die tweekampdeelnemers kon kies tussen die hardebaard enduro- of korter sprint-afdeling.

“Om dit lekker vir die besoekers te maak, was daar ‘n springkasteel vir die kinders, worsbroodjies en koffie vir al die deelnemers en vele meer.

“Te danke aan almal se steun kon D2 Training Squad en CB Enterprises N$10 000 aan SPES oorhandig,” het De la Rey gesê.



Die voorste uitslae

Tweekamp Sprint

Senior mans: 1 Marcel Surén (59 minute 47 sekondes), 2 Leander Borg (1 uur 12:40), 3 Jacques Nel (1:15:28).

Junior meisies: 1 Lillian Kibble.

Junior seuns: 1 Harry Kibble, 2 James Langford.



Tweekamp Enduro

Mans: 1 Petrus Human (1:19:55), 2 Ethan Brinkmann (1:27:53), 3 John Valentine (1:32:18).

Vroue: 1 Marion Schonecke (1:49:42), 2 Ada Kahl (1:54:26), 3 Marcelle Eloff (1:59:31).

Meestersmans: Ian Grassow (1:33:51), 2 Paul Brinkmann (1:43:03), 3 Philipp Sonntag (1:47:11).

Meestersvroue: 1 Berrit Graff (2:24:27).



10 km-veldloop

Mans: 1 Thomas Miller (47 minute 56.44 sekondes), 2 Sakeus Paulus (54:00:93), 3 Peter Brinkmann (1:02:14).

Vroue: 1 Annemie Niehaus (1:09:13), 2 Amore Pienaar (1:16:36), 3 Maja Brinkmann (1:17:27).

Meestersmans: 1 Pragasen Moodliar (1:13:40), 2 Abrie du Plooy (1:14:13), 3 Mark Brinkmann (1:22:04).

[email protected]