Besige jaar wag vir Maja en Nathan

Triathlon
Die NTF sal vanjaar weer 'n Afrikabeker-byeenkoms op Swakopmund aanbied.
Tielman Van Lill
Die Namibiese Triathlonfederasie se jeug- en junior triathlonkampioenskap die afgelope Sondag by die munisipale swembad in Olympia was net die regte voorbereiding vir Maja Brinkmann en Nathan Chase se komende seisoen.

Brinkmann (16) en Chase (15) is Namibië se nasionale junior kampioene vir 2024. In die jeugkampioenskap het Emma Brinkmann en Matt-Reece Izaaks geseëvier.

Die twee besonder talentvolle junior kampioene sal Namibië binnekort in Zimbabwe en Suid-Afrika by die Afrika-bekerreeks verteenwoordig.

Daarna sal dit plaaslik in Swakopmund by die Mole wees wanneer die Afrika-beker sy Namibiese draai kom maak.

Chase sal nie by Troutbeck in Zimbabwe meeding nie, omdat hy daardie naweek aan die Xterra-veldtriathlon by Grabouw in die Wes-Kaap deelneem.

Die NTF het gesê: “Die NTF sien daarna uit om die Afrika-driekampbeker tydens die Onafhanklikheidsnaweek van 21 tot 23 Maart op Swakopmund aan te bied.”

Ná verlede jaar se sukses met die Afrika-beker se aanbieding in Swakopmund wat wêreldklas-inskrywings in beide die mans- en vrouekompetisies gelok het, is die NTF gretig om op hierdie momentum voort te bou.

Spanne word ook genooi om in te skryf vir dié byeenkoms, wat in beide die Sprint- en Supersprint-afdelings aangebied sal word.

Brinkmann sal op 17 Februarie by die Troutbeck-oord 279 kilometer oos van Harare in Zimbabwe haar Namibiese staal wys. Die duo se volgende avontuur is op 3 Maart by die Maselspoortdam naby Bloemfontein in die Vrystaat.

Afgesien van Chase en Brinkmann sal ’n Namibiese jeug- en junior span ook daar deelneem.

Brinkmann is in 2023 in Hurghada, Egipte, as die Afrika-kampioen bekroon. By die Mole was sy tweede en tiende in Port Elizabeth tydens Afrika-bekerkompetisies. Sy het by die Statebondjeugspele in Trinidad en Tobago ’n bronsmedalje verower.

Chase het as 15-jarige by die Statebondjeugspele ’n briljante negende posisie teen heelwat ouer teenstand ingeneem. Hy het wel die Suid-Afrikaanse kampioenskap by Maselspoort verower.

Die Afrika-kampioenskap in April in Egipte sal opnuut Brinkmann se terugkeer sien.

Sondag se voorste uitslae:

Junior meisies: 1 Maja Brinkmann (1 uur 15 minute 22 sekondes).

Junior seuns: 1 Nathan Chase (1:03:46), 2 Fourie Steyn (1:07:28), 3 Ethan Brinkmann (1:10:35).

Jeug-meisies: 1 Emma Brinkmann (41 minute 27 sekondes), 2 Kyra Marschall (46:51), 3 Lilly Marschall (48:21).

Jeug-seuns: 1 Matt-Reece Izaaks (36:02), 2 Micah Chase (36:50), 3 Ryan Steyn (39:16).

[email protected]