Stryd om glorie wink by spannende Junior Meesters
Tennis
Ongekeurde spelers sal bitter graag hul kans wil aangryp om in hierdie gesogte toernooi die koerantopskrifte te haal.
Windhoek se Sentraal Tennisklub in Olympia is vandag en môre die speelplek vir die Namibiese Tennisvereniging se Junior Meesterstoernooi – ‘n geslote toernooi waar net die topgekeurde spelers in elke ouderdomsgroep op uitnodiging sake uitspook.Vir seuns en meisies o.10, o.12, o.14, o.16 is hierdie nie bloot 'n toernooi nie, maar 'n stryd om eer, trots, die glans van die oorwinning en ‘n plek in die geskiedenis van die junior sport.
Seuns onder 10
In die seuns onder 10-afdeling maak Peter Gathuru, eerste op die ranglys, se ervaring en strategie hom 'n formidabele teenstander.
Die onverskrokke Jasper Coetzee (tweede gekeur) staan vir niemand terug nie en het ure van toewyding in sy voorbereiding ingesit. Met onwrikbare vasberadenheid het Jasper aangekondig hy is gereed om te veg tot die laaste punt. “Ek gaan nie opgee nie. Die een wat my wil klop, moet my van die baan af speel!”
Marcel Diehl (4de) is 'n ewe dapper teenstander en Nicholas Buys (3de) se beweeglikheid en speelse gees maak hom 'n teenstander wat nie onderskat kan word nie.
Meisies onder 10
Janice Bezuidenhout is met goeie rede nommer een op die ranglys, met 'n indrukwekkende lys oorwinnings en bekend vir ‘n konstante hoë vlak. Haar speelstyl is verdedigend, wat haar in staat stel om lang periodes van houespel te oorleef en teenstanders te frustreer. Sy het 'n skerp taktiese aanvoeling en kan vinnig aanpas by haar teenstanders se spel.
Christina Boshoff (derde) het sterk vaardighede en is baie mededingend. Haar speelstyl is aggressief, met 'n goeie afslaan en 'n kragtige voorhand. Sy kan teenstanders dwing om foute te maak, wat haar 'n gevaarlike teenstander maak. As sy fokus en konsentrasie kan behou, kan sy die bestes aanvat.
Die tweede geplaaste Immaculate Fundisi is 'n gebalanseerde speler. Sy kombineer krag met tegniese vaardigheid, en kan afwissel tussen aanvallende en verdedigende benadering. Haar tweede afslaan is dikwels gedug en sy het talent om te wen wanneer dit werklik tel. Haar ervaring in groot toernooie kan ook 'n groot voordeel wees.
Madison Hoff is vierde gekeur, met Shuro Apple en Ruvarashe Malowelo die ander inskrywings.
Seuns onder 12
Breyton Bezuidenhout is die topgekeurde speler, met Eric Pretorius (vierde) en Jamie Els die eerste uitdagers in sy groep 1. Groep 2 het vier spelers, met Shafishina Shimali (tweede) en Paulus Pamenni (derde) die hoogste gereken, terwyl Victorious Kakumai en Emilson Ngola alles sal gee om die verrassings te lewer.
Meisies onder 12
Ses spelers takel mekaar vir die goue medalje. In groep 1 is Niamey Marcus(eerste) en Francis Boshoff (vierde) gekeur en Joy Mbangula ongekeur. Groep 2 bestaan uit Milan de Lange (tweede), Helen Boshoff (derde) en Nissie Mazive.
Seuns onder 14
Net twee weke gelede het Johan Theron by die Senior Meesterstoernooi op indrukwekkende wyse sesde geëindig. Sy pa Johan senior, 'n oudspeler op Davisbeker-vlak en legende as tennisafrigter, sê: “Klein Johan is tien keer beter as wat ek ooit was.”
Sulke woorde brand soos 'n motiverende vlam in Johan se hart. Hy is bekend vir sy geduldige en taktiese speelstyl. Hy neem elke wedstryd ernstig op en met 'n fokus om sy teenstanders takties te ontleed. Sy vermoë om onder druk te presteer, stel hom in staat om moeilike wedstryde te wen.
Om Theron van die finaal weerhou, is nie 'n uitdaging vir liggewigte nie. Sy gekeurde uitdagers is Tadiwa Mombeyarara (tweede), Jaden van der Westhuizen (derde) en Nathan Fundisi (vierde).
Meisies onder 14
Derde gekeur is die talentvolle Elrica Nakusera, kalm en gefokus. “Ek wil net kalm bly en vir goud gaan,” was haar woorde, terwyl sy gewis nie blind vir haar kompetisie is nie.
In haar groep is twee formidabele teenstanders: die nommer een Secilia Nghitewapo het hierdie jaar nog nie een wedstryd verloor nie. Secilia se spoed en tegniese vaardigheid is welbekend.
Dan is daar Emma Brinkmann, wat geen tyd mors nie en bekend is vir haar vinnige tempo en aggressiewe spelstyl. Sy is in dieselfde groep as Elrica en Alicia Hausiku. “Ek wil nie vir 'n lang tyd hier bly nie, ek wil vinnig klaarmaak met my teenstander,” het Emma verklaar.
Nghitewapo se groep van drie sluit ook Ziska van der Bosch (vierde) en Amelie Odendaal in.
Seuns onder 16
Onder die groter seuns wag 'n epiese stryd van talent en vasberadenheid. Die talentvolle nommer een Henlou du Toit is vol ambisie en het verklaar dat hy hierdie toernooi as 'n leerkans vir groter uitdagings sien. “Hierdie toernooi is vir my baie belangrik, nie net om te wen nie, maar om my vaardighede te verfyn vir die Top 8 uitkloptoernooie in Desember in Kaapstad,” het hy gesê.
Lian Kuhn (2de) lewer taktiese en presiese spel en met sy vinnige reaksies durf hy nie ligtelik opgeneem te word nie. Hy en Henlou het genoeg vorige ontmoetings om lesse uit te leer.
Die afwesigheid van die gebruiklike nommer een Ruben Yssel weens siekte is 'n verlies vir die toernooi, nadat hy in Julie ‘n verrassende insluiting in die Namibiese Davisbeker-manspan in Nigerië was. Sy teenstanders sal graag sy skoene wil vol staan.
Dante Marcus (3de) is bekend vir sy ontsettende spoed op die baan en is vasberade vir ‘n oorwinning ná twee nederlae in eindstryde vanjaar. “Ek sal nie opgee nie. Hierdie is my jaar!” Met ‘n kragtige afslaan en beweeglikheid is hy in staat om sake te dikteer. Vierde gekeur is AJ Bruwer, met sewe spelers in twee groepe.
Meisies onder 16
Maryke Kruger maak haar terugkeer tot die baan en is die enigste ongekeurde van die vyf spelers wat ná drie onttrekkings oorgebly het.
Maar sy is nie bang nie en haar selfvertroue is aansteeklik: “Ek weet wat ek kan doen!”
Die nommer een gekeurde Mari van Schalkwyk is bekend is vir haar vermoë om teenstanders van een kant nvan die baan na die ander te jaag. Ook op die baan is nommer twee, Joanivia Bezuidenhout, wat beslis haar teenwoordigheid sal laat geld. Van Schalkwyk en Bezuidenhout was boonop reeds nommer een en twee in die Senior Meesterstoernooi se vrouekompetisie.
Elke wedstryd bied 'n kans vir hierdie talentvolle meisies om hul name op die kaart te plaas. Ndeumono Wilhelm (derde) en Zandrie Botes (vierde) is ook gekeur.
Junior tennis: 'n Toekomsblik
Terwyl die seuns se vaardighede op ‘n sterk vlak is, word 'n tekort aan ontwikkeling in die meisiesafdeling ervaar, het Daniel du Toit, voorsitter van Namibië Junior Tennis, onlangs in sy ontleding van die uitdagings en geleenthede vir die plaaslike sport gesê.
Saterdag se Junior Meesterstoernooi is van kardinale belang, nie net om plekke op die ranglys te bepaal nie, maar ook om te kwalifiseer vir die Sone- in Januarie.
Die uitslae van die toernooi sal ook die samestelling van die nasionale spanne beïnvloed. Dit is 'n groot eer om verteenwoordiger van Namibiese junior tennis te wees en vir die trots van die land te speel.
Die samestelling van spanne word nie net op ranglysposisies gebaseer nie, het Du Toit verduidelik. “'n Holistiese benadering word gevolg, waar die dissipline van die spelers op en van die baan, hul vermoë om as 'n span te werk, en hoe hulle teen direkte teenstanders opweeg, ook in ag geneem word. Hierdie benadering verseker dat die beste van die beste gekies word, en dat die spanne nie net oor talent beskik nie, maar ook oor 'n sterk spangees.”
Du Toit rig 'n beroep op die gemeenskap om die ontwikkeling van tennis in Namibië te ondersteun, veral vir die meisies. Hy glo met die regte steun en ontwikkeling is daar potensiaal om 'n nuwe generasie kampioene te kweek.
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article