Relegasie dreig vir vroue in Billie Jean King-beker

Tennis
Die Namibiërs sal vandag teen Mauritius moet uithaal om die land se posisie in Afrika Groep Drie te beskerm.
Phillipus Josef
Namibië se jong span van vier tennisspelers kry redelik opdraand in die Billie Jean King-beker vrouetoernooi wat in Kenia se hoofstad Nairobi gehou word.

Leandre Louw, Joanivia Bezuidenhout, Megan Lombardt en Lesedi Jacobs is die viertal wat hul land by die mees gesogte wêreldwye spankompetisie verteenwoordig.

In hul openingswedstryd het Namibië teen Zimbabwe te staan gekom, maar het ongelukkig nie die mas opgekom nie. Joanivia Bezuidenhout het die eerste enkelspelwedstryd met 6-0, 6-0 teen Rufaro Magarira verloor.

In die tweede enkelspelwedstryd het Jacobs hard baklei teen Sasha Chimedza en het ‘n derde stel afgedwing toe sy die tweede stel gewen het. Jacobs het egter uiteindelik die laaste stel verloor.

In die dubbelspel het Namibië se Lombardt en Jacobs teen Zimbabwe se Tadiwanashe Mauchi en Tanyaradzwa Midzi met 6-4, 7-5 verloor.

Lombardt het aan die koerant die waarde beklemtoon om as tennisspeler daar te kan wees, die vlak van kompetisie te sien en teen hoëvlakspelers te kompeteer.

“Die kompetisie is intens, wat wonderlik is, want dit gee ons 'n kans om te sien wat ons moet verbeter om daardie vlak te bereik en te handhaaf."

Namibië se tweede ontmoeting in die Billie Jean King Beker was Dinsdag teen Suid-Afrika, waar hulle 'n 3-0 nederlaag gely het in die twee enkel- en een dubbelspelspelwedstryd.

Eerste is Bezuidenhout deur Suid-Afrika se G. Broadfoot met 6-0, 6-0 verslaan. Hierna moes Jacobs teen I. Kruger van Suid-Afrika met 6-0, 6-2 die aftog blaas.

In die dubbelspel het Namibië se Lombardt en Louw teen Suid-Afrika se L. Ndungane en H. van Vuuren gespeel. Suid-Afrika het met 6-1, 6-2 gewen.

Namibië het gister opnuut 'n uitdagende taak teen Madagaskar gehad, wat 107de op die wêreldranglys is, terwyl Namibië die 113de posisie beklee. Madagaskar het hul oorheersing in al drie wedstryde getoon.

In die eerste enkelspelwedstryd is Louw met 6-1, 6-1 verslaan, voordat Lombardt met 6-0, 6-0 afgestof is. In die dubbelspel is Louw en Lombardt deur die Malgassiese paar met 6-0, 6-0 oorweldig .

Volgens die toernooi-formaat sal Namibië nou teen ander spanne wat vierde in hul onderskeie poele geëindig het, meeding om relegasie uit Afrika Groep Drie af te weer. Volgende wag Mauritius in ‘n uitspeelwedstryd vir die tiende tot 12de posisie.