Jong Dowie veg tot in topgeselskap

Tennis
Andrew Poolman
Die tennistalent en veggees van Namibië se 13-jarige Israel Dowie het hom reeds tot in die halfeindstryd laat vorder van die Oostenrykse Jeug Ope-kleibaantoernooi wat tans in Kufstein aan die gang is.

In 'n sterk hoofloting van 64 spelers van oraloor Europa en ook inskrywings van die VK, Australië en Nieu-Seeland, word die o.14-seuns-enkelspelers fel meegeding.

Ongekeurde Dowie het reeds Maandag in sy openingswedstryd 'n opflikkering gemaak en die toernooi se tweede gekeurde speler uitgeskakel. Hy het met 6-1, 6-3 teen Ansar Niyetkaliyev van Kazakstan gewen.

In ronde 2 kon die mede-ongekeurde speler Filip Schroll van Slowenië ook nie keer dat die Namibiër vorder nie (6-2, 6-3).

Dowie het Woensdag nog 'n puik oorwinning met 6-2, 7-5 teen 'n gekeurde speler, Bruno Giovanni Condorelli (16de) van Italië bygevoeg.

Gister het Frankryk se 12de gekeurde Igor Brania op hom in die kwarteindronde gewag, maar ondanks nog ‘n behoorlike wipplankstryd het die Namibiër met 6-2, 1-6, 6-4.

In vandag se halfeindstryd takel hy die Nieu-Seelander Noa Milburn, wat gister Italië se derde gekeurde Stefano Palanza uitgeskakel het (3-6, 6-3, 7-5).

Die ander halfeindstryd vandag is tussen Oostenryk se Ferdinand Grasl en Johann Nagel-Heyer van Duitsland.