Connor terug as 'n faktor teen die grotes

Tennis
Die 19-jarige Connor van Schalkwyk, Namibië se voorste manstennisspeler, se opmars vanaf kwalifisering tot in die eindstryd van die Curro Centre Court-reekstoernooi in Hillcrest, Durban, is uiteindelik gestuit.

Hy het Sondag in die finaal teen die tweede gekeurde Phillip Henning van Suid-Afrika verloor (6-4, 6-4) in een van die Internasionale Tennisfederasie (ITF) se Futures-toernooie.

Connor het ‘n spesiale uitnodiging (“wild card”) vir die kwalifiserende ronde van die enkelspel gekry en saam met sy ouer broer Codie ook vir die hoofloting van die dubbelspel.

Laasgenoemde geleentheid het hulle die kans gebied om hul eerste ATP-punte te kon inpalm.

Hulle het in die kwarteindronde van die dubbelspel verloor (6-4 7-6) teen die tweede gekeurde paar (Alec Beckley van RSA en Alexander Donski van Bulgarye) wat ‘n gerekende 200ste ATP-ranglysplek hou.

Laas naweek se Curro Centre Court-toernooi in Pretoria, wat op die ITF se wêreldtoer vir mans ingesluit is, het ‘n totale gesamentlike prysgeld van 15 000 Amerikaanse dollar op die spel gehad. Henning se wennerstjek vir die enkelspelfinaal was vir R43 958, terwyl Connor se tweede plek N$27 474 werd was.

Connor het in sy semifinaal die indrukwekkende Suid-Afrikaner Devin Badenhorst se opmars met 6-4, 7-6(4) beëindig. Voor dit het die Namibiër ook opponente van Costa Rica, Italië en Rusland uitgeskakel.

Nadat Connor in Augustus verlede jaar 'n hakskeenbesering tydens die Namibiese Davisbekerspan se deelname in Pretoria opgedoen het, is die naweek se uitslae 'n aanduiding dat hy weer op pad terug na sy beste is.