Uganda en Madagaskar volgende in Afrika-stryd

Tafeltennis
Tielman Van Lill
Ná ‘n rit van vyftien ure verlede week vanaf Windhoek na Gaborone, Botswana, is Namibië se junior meisies en seuns-tafeltennisspanne deur na die semifinale van die junior Afrika-tafeltenniskampioenskap.

Die Namibiese meisies het Maandag met 3-0 teen Egipte verloor, terwyl die seuns met 3-0 teen Uganda die knie moes buig. Egipte se meisies is eerste gekeur in Afrika en Uganda se seuns tweede op die ranglys.

Maar alles was nie verlore nie. Gister het die Namibiërs vir Zimbabwe in beide afdelings met 3-0 uitoorlê en tot die semifinale deurgedring.

Uganda se meisies sal vandag Namibië in die semifinaal aandurf en die Namibië-seuns vir Madagaskar.

Die span is Agape Chicalu, Lian Gebauer, Cadence Farmer, Kamrouz Ghayouri, Caden Bosman, Kevin Zhang, Justina Namupolo en Karolina Shigwedha.

Die spelers word deur Theo Beukes (bestuurder), Simon Gologolo (afrigter) en Alma Samuel (medies) vergesel.

[email protected]