Juniors neem groot treë

Tafeltennis
Tielman Van Lill
Die nuwe uitvoerende komitee van die Namibiese Tafeltennisvereniging (NTTA) het vanjaar reeds etlike toernooie vir sy junior spelers aangebied.

Môre bied die NTTV sy vierde kompetisie van ses by Wanderers in Pionierspark aan, wat deur Arysteq Asset Management en Simonis Storm ondersteun word.

Theo Beukes, ontwikkelingsbeampte van die NTTA, vertel: “Aan die einde van 2022 het die tafeltennisgemeenskap 'n nuwe uitvoerende komitee vir 'n termyn van drie jaar gekies.

“Hierdie komitee het verskeie mikpunte vir homself gestel, waarvan die belangrikste is om die basis van tafeltennis te verbreed in terme van die aantal streke en die aantal junior spelers.

“Ons mikpunt is om die algehele standaard van tafeltennis in Namibië te verbeter; om oor die volgende twee tot vyf jaar meer mededingend op streek- en kontinentale vlak te word.

“Arysteq Asset Managemene en Simonis Storm het in 2023 met die borgskap vir 'n reeks skoletoernooie aangesluit. Die reeks het in 2023 met vier toernooie begin en het tot ses vir 2024 aangegroei.

“Teen die einde van 2022 was daar slegs twee junior toernooie per jaar met 'n gemiddeld van 37 spelers per toernooi (seuns én meisies). Aan die einde van 2023 het hierdie gemiddeld met vier toernooie in die reeks tot 51 toegeneem.

“Ons het ook die aantal ouderdomskategorieë vermeerder en die by elke kompetisi kan meisies en seuns nou vir enkelspel in die onder 11-, 13-, 15-, 17- of o.19-afdelings inskryf.

“Wenners van die onderskeie kategorieë by elke toernooi ontvang medaljes en alle spelers kry punte wat volgens die finale plasing in die toernooi bepaal word.

“Aan die einde van die ses toernooie word die punte van die beste vier bereken om die finale puntestand in elke kategorie te bepaal. Die eerste vyf plekke in elke kategorie sal prysgeld ontvang en die wenners word met wisseltrofeë vereer.”

[email protected]