WHS-wenspan moet verliese in 2025 oorkom

Skolerugby
Andrew Poolman
Waarnemers van skolerugby sal goed vertroud wees met die ewigdurende siklusse tussen ‘n bloeitydperk en ‘n droogte.

Vir afrigters om wenspanne te ontwikkel, is uiteraard ‘n omvattende proses wat nie in seuns se matriekjaar begin nie, maar waarvan die saadjies vele jare tevore geplant en gekoester word.

Die talentvolle groepe wat dan in graad 12 wasdom bereik, is die volgende jaar skoolverlaters en die aandag verskuif dan opnuut na die nimmereindigende instandhouding van die pyplyn van ontluikende spelers om die volgende jaar se plekke te vul.

Dikwels sal skole se rugbybesture dan ook besluit om hul o.19-afrigter/s laat verwissel om die volgende jaar weer as die mentor vir ‘n jonger ouderdomsgroep die pad boontoe te begin stap.

Windhoek Hoërskool – wie se rugbyspanne vir die 25ste opeenvolgende jaar deur Samsung geborg is – het laas Saterdag ‘n hoogs indrukwekkende vertoning gelewer om met onblusbare aanvallende hardlooprugby die wind uit die seile van ‘n sterk King Price Windhoek Gimnasium-span te haal.

Die spoed en vernuf van hul teenaanvalle, asook ondersteunende spel vir enigeen wat doodgevat word om die bal vinnig lewendig te hou, was dwarsdeur die jaar kenmerkend van die WHS Koedoebulle – net soos die vorige jaar.

Ná WHS se Standard Bank o.19 Superliga-triomf met 41-24 (rustyd 17-5) het nege van die beginspan Saterdag die einde van hul skolerugbyloopbaan bereik, naamlik heelagter Joshua Moller, vleuel Alejandro Morkel, senterpaar Soobramoney Sammy en Eljoh Strauss, skrumskakel Dominique Isaacs, losvoorspelers McHenry Kambatuku (kaptein) en Jed Bekker, asook die drie stutte Joshua Bester, Tauno Hamukoto en Charlton Binga (plaasvervanger).

Die WHS tweede span se versnelling in die tweede helfte om met 44-30 teen Windhoek Gimnasium II in die eindstryd van die o.19 premier B-liga te wen, dui daarop dat die ligbloues volgende jaar steeds ‘n stewige grondslag kan hê om op voort te bou. Aan beide kante was heelwat talentvolle spelers wat gedurende 2024 hul kanse in die eerstespan gekry het.

Die invloed van die ervare afrigter Jan Dames in die WHS-struktuur kan uiteraard nie geïgnoreer word nie. Sy naam sal altyd opduik wanneer die geskiedenis van ligarugby van Namibiese hoërskole ter sprake kom.



Sommige van die mees suksesvolle lede van nasionale skolekampioen-afrigterspanne (sedert 1969):



André du Toit (WHS) – 1969, 1971, 1977.

Buks van der Berg (Grootfontein) – 1990* (gedeel, WHS 3-3 Grootfontein); 1992; verloor ook in eindstryde van 1986 en 1989.

Piet Theunissen (HTS) – 1984, 1994, 1998.

Ettienne Odendaal – 1990* (gedeel, WHS 3-3 Grootfontein); 1995, 1996, 1997, 2001, 2004, 2005 met WHS; 2014 met Whk Gimnasium.

Coenie Prinsloo (WHS) – 1999, 2000, 2001, 2003.

Johan Deysel senior (WHS) – 2008, 2009, 2010.

Jan Dames (WHS) – 2007, 2008, 2009, 2010, 2011, 2012, 2016, 2023* (gedeel), 2024.