Opponente weeg goed op vir NRU rondte vyf

Klubrugby
FNB Kudus klim terug in die saal met 'n punt om te bewys teen FNB Western Suburbs.
Andrew Poolman
Die agt opponente betrokke in rondte vyf van die Namibië Rugby-unie se premierliga weeg opnuut goed teen mekaar op vir interessante wedstryde wat in Olympia, op Rehoboth, Walvisbaai en Grootfontein gespeel word.

In die hoofstad het Trustco United voor die onderbreking vir die Paasnaweek van hom laat kennis neem in sy tuisoorwinning met een punt (32-31) teen FNB Kudus. Die haker JT Basson (drie drieë) en die flank Thehard Lintvelt se vyfpunters het die bonuspunt verseker wat United tot sy huidige derde posisie laat opskuif het.

Die Filistyne se afrigter Herman Lintvelt en direkteur van rugby Robbie Dickson sal wil sien dat hierdie momentum nie verlore gaan nie, met die bloues wat vir FNB Reho Falcon by Gemsbokpark inwag.

In verlede jaar se ooreenstemmende wedstryd het Reho Falcon ‘n gelykopwedstryd met 22-22 afgedwing, voordat hulle die wegwedstryd met 49-47 beklink het.

Die Falcon-span onder afrigterskap van Gerald Loubser en Frank Isaacs het hul laaste tuiswedstryd teen hul buurspan FNB Rehoboth met 25-21 beklink. Hul huidige posisie is agtste, maar ‘n onverwagse oorwinning teen United kan steeds hul aanspraak op kwalifisering vir die semifinale lewendig hou.

Falcon sal speel in die afwesigheid van losskakel Casey Beukes en linkervleuel Khee-Shan Beukes, vanweë ‘n sterfte in die familie.

FNB Reho Falcon (teen United): 15 Gurtley Beukes, 14 Ashton van Wyk, 13 Shaun Mouton, 12 Hillian Beukes, 11 Wayrich Hansen, 10 Brian Bayer, 9 Dillon Kahman, 8 Thomas Kali, 7 Gashwill “Borris” Majiedt, 6 Marthinus Nekundi, 5 Saari Uugwanga, 4 Toni Isaacs, 3 Mike Eliaser, 2 Dihlen Daries, 1 Duane Alexander.

Reserwes: Zadian Campbell, Mervin Seibeb, Gianni Vries, Itunghua Rukoro, Wesley Haukongo, JP van Wyk, Daniel Bezuidenhout en Nog Een.



Kudus teen Rehoboth

Op Walvisbaai het FNB Kudus (tweede) vir drie weke hul wonde gelek nadat die uitslag in Olympia deur hul vingers geglip het.

Die bloues klim terug in die saal vir hul tuiswedstryd teen FNB Western Suburbs (sesde).

Die Kudus-flank Franco Vries (knie), slot Enzio Kotzee (harsingskudding) en stut Lorenco Calaca (beenbesering) is op hul krukkelys, terwyl losskakel Aurelio Plato (agter-dyspier) ook nog wag vir vrystelling om weer te kan speel.

Wilfred Muller, sekretaris van Kudus, sê: “Afgesien van die genoemde manne behoort ons op volle sterkte te wees. Ons spelers het goed voorberei en is gereed om ná die skok teen United sake reg te stel.

“Op die skakelpaar behoort ons weer met die jeugdige kombinasie Rayshawn Shoombe (nr. 9) en Michael Koopman te begin. Vir beide het werkverpligtinge bygedra dat hulle nie saam met die nasionale o.20-span kon gaan toer nie.”



Wanderers verander min

Twee van FNB Wanderers se staatmakers sover wat nie die wegwedstryd teen FNB Rehoboth sal speel nie, is vleuel Natie van Rensburg (uitstedig) en losskakel Denzo Bruwer, wat ruskans vir ‘n ligte besering gegun word.

Afrigter Darryl de la Harpe sê: “Eddy (Drotsky) is terug in die beginspan, nadat hy hierdie week sy 21ste verjaarsdag gevier het (en nie teen Grootfontein betrokke was nie).“

Warren Ludwig en Tolly Tjipute, wat teen Grootfontein tweedespan gespeel het, is tot die uitdrafspan bevorder, terwyl Johnny Mwenyo vanaf heelagter skuif om die 10-trui by Bruwer oor te neem.

FNB Wanderers (teen FNB Rehoboth): 1 Hans Ngoshi, 2 Edward Drotsky, 3 Liam Compion, 4 Ruan Ludick, 5 Rainer Augustyn, 6 Kian Beyer, 7 Joe Losper, 8 Adriaan Booysen, 9 Jacques Theron (kaptein), 10 Johnny Mwenyo, 11 Warren Ludwig, 12 Danco Burger, 13 Danie van der Merwe, 14 Nico Maartens, 15 Tolley Tjipute. Reserwes: Sheron Rossouw en ander wat tweedespan speel.



Noordestryd

FNB Grootfontein sal positief ingestel wees vir hul tuiswedstryd teen FNB Unam, ondanks die noordespan se gevoelige nederlaag teen die dominerende Wanderers-span twee naweke gelede.

Tydens laasgenoemde wedstryd (70-18) het Grootfontein ook die senter Niel Holtzhausen (beenfraktuur) en losskakel Louis Grobbelaar met beserings verloor. Die verwagting is darem dat die flank Pieter-Daan Kok sy terugkeer sal maak.

Unam se twee bonuspunte teen FNB Dolphin op Swakopmund in die oorwinning met 49-22 plaas hulle nou in die vyfde posisie – omring deur uitdagers wat ook hul visier op die halfeindronde ingestel het. Die studentespan verdedig steeds ‘n onoorwonne rekord teen Grootfontein sedert die noordespan in 2021 tot die NRU premierliga toegetree het.