Olimpiese sewesrugby-groepe voltallig

Sewesrugby
China se sewesvroue en Suid-Afrika se manspan, die Blitsbokke, het onlangs in Monaco hand opgesteek deur die 12de en finale beskikbare plekke vir die 2024 Olimpiese Spele op te raap.
Tielman Van Lill
Suid-Afrika se Blitsbokke het net-net die paal gehaal om vandeesmaand by die Olimpiese Spele in Parys, Frankryk, teen die room van die wêreld se sewesrugbyspelers hul staal te toon.

Ná ‘n ietwat droewige tydperk moes die Suid-Afrikaanse mans verlede maand in Monaco tydens ‘n laaste kwalifiserende geleentheid (repechage) spook om vir die sportskouspel in Parys te kwalifiseer.

Die Blitsbokke het Brittanje met 14-5 in 'n spannende eindstryd geklop om die finale beskikbare plek vir die Olimpiese Spele te beklink.

Met goud by die Wêreldrugby-seweswedstryd in Monaco in die sak het die Blitsbokke hulle by die Suid-Afrikaanse vroue aangesluit wat regstreek vir Parys gekwalifiseer het.

In 'n wedstryd waar al die punte in die eerste helfte aangeteken was, was die Blitsbokke vasberade op die verdediging en het 'n laat aanslag hokgeslaan om hul plek op die vliegtuig vir Frankryk te bespreek.



China verstom opnuut

China het die laaste plek vir vroue-sewesrugby in Parys beklink toe hulle Kenia in die eindstryd met 24-7 geklop het om hul onlangse reeks puik uitslae voort te sit. In 'n onoorwonne naweek het China op pad na die eindstryd vir Paraguay met 31-0 en Pole met 40-7 uitgeskakel.



Mans (25 tot 27 Julie)

Frankryk en hul superster-skrumskakel, Antoine Dupont, sal hul Olimpiese veldtog in Groep C begin saam met die tweemalige Olimpiese kampioen Fidji, die VSA en debutante Uruguay. Die Franse gaan giftig voor hul tuisskare wees.

Argentinië sal ook strawwe mededinging in Groep B ondervind waar hulle Australië, Samoa en Kenia sal ontmoet.

In Groep A is die topgekeurde Nieu-Seeland saam met Ierland, Japan en Suid-Afrika gegroepeer.

Die topdrie lande in die Wêreldrugby SVNS-reeks (2023–‘24) wat vroeg in Junie ten einde geloop het, was Frankryk (wenners), Argentinië en Fidji.



Vroue (28 tot 30 Julie)

In die vrouekompetisie sal die stryd in drie baie mededingende groepe ook fel wees. Die heersende Olimpiese kampioen, Nieu-Seeland, sal sterk aanspraakmakers wees en word in Groep A teen Fidji, Kanada en China opgeweeg.

Groep B is met Australië, Ierland, Brittanje en debutante Suid-Afrika gelaai. Frankryk is in Groep C geplaas as een van drie topgekeurde spanne en sal probeer verbeter op hul silwermedalje in Tokio, Japan. Botsings teen die VSA, Japan en Brasilië wag op hulle.

Die topdrie lande in die Wêreldrugby SVNS-reeks (2023–‘24) wat in Junie geëindig het, was Australië (wenners), Frankryk en Nieu-Seeland.

[email protected]/Bron Wêreldrugby