O.20-span op die wenpad met ses drieë teen Zim

Rugby
Afrigter Johan Zaayman sê Woensdag se stryd teen Kenia is waarskynlik die "finaal".
Andrew Poolman
Die verligting was groot ná Namibië se oortuigende oorwinning met 41-22 teen Zimbabwe op die eerste wedstryddag van die Rugby Afrika Onder-20 Barthés Trofee-toernooi in Harare.

Afrigters Johan Zaayman en Jood Opperman se junior span is na dese sterk geplaas om vir die eerste keer sedert 2018 die oorhand oor hul kontinentale opposisie te kry.

Reeds in die eerste helfte het verskeie van die Namibiese spelers hul hand opgesteek in ‘n puik spanpoging voordat die rustydfluitjie op 27-5 in hul guns geblaas het.

Nadat Zimbabwe verlede jaar ook op hul tuisveld die Namibiërs met 35-23 uit die pad gevee het, was die skoen hierdie keer aan die ander voet.

Die junior Sables het wel met tye ondernemende spel gelewer en die spoed in hul agterlyn gebruik, maar uiteindelik was dit die gestruktureerde toepassing van druk deur die toerspan onder die kapteinskap van agtsteman Ben Burger wat die vrugte afgewerp het.

“Die Zimbabwe-wedstryd was ‘n redelike toets, maar wat sou ‘n mens minder verwag? Dit was ware toetsrugby,” het Zaayman agterna aan Sport Wrap gesê.

“Zimbabwe het dit goed reggekry om die vloei van ons balbesit te versteur. Die feit dat ons dit nogtans kon regkry om ons geleenthede af te rond, wys die kaliber van spelers waaroor ons beskik. Ek is baie trots.”

Volgens Zaayman is die binnesenter Van der Merwe Tromp, wat die veld in die tweede helfte met ‘n enkelbesering verlaat het, nou reeds heelwat beter en dit lyk belowend dat hy op sy pos kan wees vir Woensdag se ontmoeting teen Kenia.

Die Keniane het as die verdedigende titelhouer van 2024 sy veldtog met ‘n oorwinning van 29-21 afgeskop (rustyd 19-11).

“Afgesien van Tromp is ons gelukkig met beserings en dit plaas ons in ‘n goeie posisie. Woensdag se wedstryd teen Kenia kan as die finaal tussen die eerste dag se twee wenspanne beskou word, wat dan in die binnebaan sal wees om op die derde dag die toernooi te wen. Kenia het spoed en sewesvaardighede, maar ons voel ons kan hulle voor aanvat,” sê Zaayman.



Junior Sables veg vergeefs

Die Namibiërs het sodanig die oorhand bewerkstellig dat geel kaarte vir heelagter AJ Vercuil (42 minute) en flank Walther Otto (71ste minuut) min invloed op die uiteindelike uitslag gehad het.

Zimbabwe was eerste uit die blokke toe hulle ná sewe minute hul lynstaandryf oor die doellyn gebeur het vir slot Tafara Dewa se onverdoelde drie.

Losskakel Maughan Jarman, wat met sy besluitneming en dartellopies uitgeblink het, het ‘n billike strafskop naby die pale misgeskop (10 minute), voordat hy ná 22 minute met ‘n strafdoel die agterstand tot 3-5 laat krimp het.

Twee minute later was Namibië se eerste drie op die telbord met ‘n lynstaandryf wat die slot Pieter Luttig afgerond het. Jarman het misgeskop.

Zimbabwe se afskop het nie die tienmeterlyn gehaal nie en hul opposisie het die druk toegepas. Die junior Sables het hulself uit die moeilikheid probeer skop, maar linkervleuel Jurgen Meyer, Jarman en heelagter AJ Vercuil se teenaanval het keer gekos en van die volgende fase was die spasie daar vir Meyer se eerste drie, wat Vercuil verdoel het (Namibië voor met 15-5).

‘n Jarman-breekslag deur die middelveld het nog ‘n strafskop gebring wat tot die volgende lynstaandryf en drie deur haker Delano van der Berg gelei het. Vercuil het misgeskop (20-5).

Die junior Sables het hard probeer aanval, maar onderskeppings van hul laaste aangeë het minstens twee kanse verspeel.

Net voor rustyd het die Zimbabwiërs desperaat uit hul eie doelgebied probeer aanval, maar regtervleuel Alejandro Morkel het onderskep vir ‘n maklike drie wat Vercuil verdoel het (27-5).

Vercuil se geel kaart kort ná die hervatting het die deur geopen vir die eerste vrugte van Zimbabwe se terugvegpoging, toe Tafara Dewa sy tweede onverdoelde drie gedruk het.

Hul derde drie deur senter Tadiwa Maradze van ‘n beplande agterlynbeweging het opnuut onverdoeld gebly, met die Namibiese vleuel Alejandro Morkel gelukkig om nie vir ‘n oënskynlike afklap ‘n geel kaart te kry nie (27-15).

Nog kanse vir Zimbabwe is nie afgerond nie, insluitend ‘n briljante duikslag op die hoekvlag deur vleuel Jurgen Meyer op die teenoorgestelde hoekvlag. In die 60ste minuut het Zimbabwe wel ‘n voorspelerdrie gedruk en verdoel om op 27-22 binne trefafstand te kom.

Vir Namibië het Jarman (66 minute) weer gefaal met ‘n strafskop van die tienmeterlyn en Tromp is af met ‘n besering. Plaasvervangers het wel hul voete begin vind, maar met Walther Otto se geel kaart was hulle opnuut net 14 spelers.

Nietemin het Jarman opgeduik om op te pik toe plaasvervanger-senter Xavier Mouton vanaf ‘n beplande agterlynbeweging uit die bal geduik is en het na Jurgen Meyer aangegee. Sonder spasie het die vleuel ‘n skoppie vorentoe gegee en sy groot vaart gewys om net voor die doodlyn op die bal te gaan duik. Van die kantlyn af het Vercuil verdoel (34-22 ná 72 minute).

Met die laaste drie (73 minute) deur plaasvervanger-skrumskakel Schalk “SW” Kuhn, verdoel deur Vercuil, is die uitslag bo enige twyfel gestel.