O.18’s wil in Johannesburg beste voet voor sit

Skolerugby
Die span se ambisieuse mikpunt is om drie uit drie wedstryde te wen.
Andrew Poolman
Die Namibiese skolerugbyspan takel vandag die Pumas Akademiespan om 14:30 op die openingsdag van die SA o.18 Akademieweek in Johannesburg.

Onder afrigterskap van mnr. Herman Grobler van Walvisbaai Privaatskool het die jongspan oor die naweek na die buurland vertrek vir die jaarlikse hoogtepunt wat tot die beskikking van die land se skolerugbyspelers is.

By hul afskeidseremonie Donderdagaand is die span se klerasie deur die XCO-groep oorhandig. Ander borge van die span is Aurex Constructors, Uitkoms Boerdery, Kunene Catering, OK Foods, Pupkewitz Megabuild, Sanlam, die Nictus-groep en Suzuki.

Die Namibiese span vir vandag (met truinommers): 1 Juric van der Berg, 16 Marnus Bothma, 18 Joshwin Solomon, 4 Russel Bartlett, 5 Herman Lombaard, 6 Pieter Jan Strydom, 7 Hanlo Schoeman, 8 Ruan Agenbag (kaptein), 9 Dominique Izaacks, 10 Waldré Kotze, 11 Carlo Havanga, 12 Jano Erasmus, 13 Soobramoney Sammy, 14 Ethan Sinden, 15 William Beukes.

Reserwes: 2 Tiaan van der Westhuizen, 17 André Strauss, 3 Daniel du Toit, 19 Jivaldo Pienaar, 20 Benjamin Mostert, 21 Bradley Gawaseb, 22 Janco Bredenhann, 23 Alexandro van Wyk.

Regstreekse beeldsending van elke wedstryd word op die toep of webblad van SuperSport Schools verwag.



Onder 13 Cravenweek

Met ‘n oorwinning van 52-0 teen die Grens-platteland het die Sanlam Namibiese laerskolespan sy vier wedstryde by die o.13 Cravenweek in Pretoria op ‘n hoogtepunt afgesluit.

Vir die wenspan het Conroy van Wyk (2), Keathen Humphries, Ruben Kotze, Adrian van der Westhuizen (2) en Tiaan du Plessis (2) drieë gedruk, waarvan Ryan Steyn vier en Jacques Bruwer twee keer verdoel het.

Die span onder kapteinskap van Parkies se haker Jean Botha het die toernooi afgeskop met ‘n oorwinning van 29-12 teen Zimbabwe, voordat hulle die volgende dag teen Griekwas tweede gekom het (15-39). Donderdag het hulle ook teen Limpopo Blou Bulle verloor (5-34), met hul enigste drie deur die vleuel van Walvisbaai Privaatskool, Rijk Duvenhage.

Afrigter Brian Titus sê: “Ons toernooi het goed afgeloop. Ons het in ‘n hoër plasing as verlede jaar geëindig, ons het twee uit vier wedstryde gewen en so ook ons plek in die Cravenweek behou.

“Ons algemene spel was veel beter as laasjaar, met baie goeie dissipline op en af van die veld. Die deelname aan die provinsiale o.12-toernooi help ons geweldig om seuns vir die Cravenweek te kan voorberei.

“Ek reken as ons nog heelwat vroeër die o.13 Cravenweekspan kan kies en meer oefenkampe hou, sal dit baie goed vir ons wees.

“Ons bedank ook ons ouers en borge wat hul hande diep in hul sakke gesteek het om die toer moontlik te maak.”