Moerat lei gewysigde Bokspan in Santiago

Rugby
Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het tien veranderinge aan die span wat teen die All Blacks begin het, aangebring vir komende Saterdagaand se voorlaaste Castle Lager Rugbykampioenskapswedstryd teen Argentinië in Santiago.

Salmaan Moerat sal die rol as kaptein hervat waarin hy vir die wedstryd teen Australië in Perth aangewys was, maar wat van korte duur was weens die harsingskudding wat hy binne die eerste 20 minute opgedoen het.

Net soos vir die Perth-toets sal Eben Etzebeth van die bank af dekking vir die slotposisie bied, terwyl Erasmus voortgaan met die proses om diepte in beide sy speel- en leierskappersoneel te versterk.

Onder die veranderinge is die terugkeer na die beginspan vir spelers soos heelagter Aphelele Fassi en flank Ben-Jason Dixon, wat drie weke gelede in die beginspan vir die eerste toets teen die All Blacks in Johannesburg diens gedoen het.

Fassi is terug in die plek van die veteraan Willie le Roux, terwyl Dixon altyd 'n seker insluiting was sedert die besluit dat Pieter-Steph du Toit, die eerstekeuse steelkantflank, ruskans gebied word en die toergeselskap sou misloop.

Die gereelde kaptein Siya Kolisi was verlede week in die toergroep wat aangekondig is, maar sal nie op wedstryd-23 wees nie, wat beteken Marco van Staden sal Saterdag die nr. 6 dra. Van Staden was aanvanklik in die wedstrydgroep op Emirates Airlines Park, maar is in ‘n laat stadium onttrek toe Etzebeth betyds herstel het en op die bank ingesluit is.

Malcolm Marx, op die bank in albei toetse teen die All Blacks, is terug om as haker op te draf, met Bongi Mbonambi ‘n lid van die groep wat agtergebly het om voor te berei vir volgende week se laaste Kampioenskapswedstryd teen die Pumas in die Mbombela-stadion in Nelspruit.

Springbokspan: Aphelele Fassi, Kurt-Lee Arendse, Jesse Kriel, Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi, Handre Pollard, Cobus Reinach, Jasper Wiese, Ben-Jason Dixon, Marco van Staden, Ruan Nortje, Salmaan Moerat (captain), Thomas du Toit, Malcolm Marx, Ox Nche.

Reserwebank: Jan-Hendrik Wessels, Gerhard Steenekamp, Vincent Koch, Eben Etzebeth, Elrigh Louw, Kwagga Smith, Jaden Hendrikse, Manie Libbok.

– SuperSport.com