Klubs se linies opgestel vir NRU-semifinale

Klubrugby
Otis Daniels
Alles is gereed vir spannende, dramatiese klubrugby met die halfeindronde van die Namibië Rugbyunie se ligas wat Saterdag by WHS FNB Vegkop-stadion aangebied word.

Vanaf 10:00 sal om die gesogte plekke in die eindstryd in die NRU-vroueliga (United Gemsbokkies tn Wanderers Bokkies; verdedigende kampioen en puntelyswenner Unam Steenbokkies tn Rehoboth Bokkies) meegeding word.

Die NRU-reserweliga-halfeindstryde sal vanaf 13:00 ewe hewig betwis word (Wanderers II tn Unam II; puntelyswenner Kudus II tn Rehoboth II), met 'n nuwe kampioen wat Grootfontein II se 2023-titel sal oorneem.

En dan: die NRU-premierliga se twee intense botsings.

Eerste aan die beurt (16:40) pak FNB Wanderers vir FNB Kudus, terwyl die span boaan die puntelys, FNB Unam om 18:30 teen FNB Grootfontein vir die oorblywende plek in die finaal te staan kom.

Kudus het op Walvisbaai ’n uitgedunde Wanderers met 51-27 uitgestof, nadat Wanderers vroeër met 35-25 in Pionierspark gewen het.

Wanderers het vanjaar die grootste punteverskil van al nege spanne (367) versamel, met 729 aangeteken en 361 afgestaan. Hulle het net twee keer (teen Kudus en Unam) in 16 wedstryde verloor.

Dirk Human, die Wanderers-afrigter, sê die span is goed voorbereid en gerat vir die komende kragmeting. “Ons sal 'n ander benadering volg, want 'n halfeindstryd gaan nie daaroor om ‘fancy’ rugby te speel nie. Kliniese uitvoering van die wedstrydplan en die handhawing van telborddruk kan bepalende faktore wees.”

Human het gesê Wanderers sal sonder vyf beseerde en onbeskikbare losvoorspelers moet klaarkom, met Prince !Gaoseb, Peter Diergaardt, Driaan Vorster, Bakkies Rossouw en Johan Meyer almal buite rekening.

Hy verwag dat die Walvisbaaiers sy span sal druk om hul beste uit te haal. “Kudus kan 'n los wedstryd met aanvalle in die wye kanale speel, maar hulle lewer ook uitstekende vaste spel. Dit gaan ’n taai wedstryd wees en ons sal hulle in elke afdeling moet hokslaan. Ons moet vir mekaar speel en tot op die eindfluitjie veg vir ons plek in die eindstryd.”

Kudus het 469 punte aangeteken, 342 afgestaan en is vier nederlae toegedien. Klubsekretaris Wilfred Muller weet dit gaan moeilik wees om in hul derde halfeindstryd in drie seisoene hul eerste deurbraak verby dié vlak te maak.

“Ons spelers is gefokus op vir die taak voor ons. Wanderers is ’n goed georganiseerde span vol internasionale spelers, maar ons is vol vertroue dat ons goed sal presteer.”

Hy sê spelers soos Max Katjijeko (slot of flank), Cameron Langenhoven (nr 8), PJ Walters (senter) en Lloyd Jacobs (vleuel) bring broodnodige ervaring. “Ons het vanjaar verskeie jong spelers in die premierligaspan sien deurkom. As ons spelers die wedstrydplan perfek uitvoer, sal die resultaat kom.

“Ons doen 'n beroep op ons aanhangers om in getalle op te daag en die Blou Masjien te ondersteun.”



Grootfontein se mylpaal

Unam het Grootfontein twee keer dié seisoen geklop (29-24 en 20-31) en het nog nooit teen die noordespan verloor sedert dié in 2021 die premierliga betree het nie.

Die studente het boaan die puntelys geëindig, met 'n reuseverskil van 367 punte (624 teen 266) en het net twee nederlae gely (Wanderers en FNB Reho Falcon).

Ryno Visagie, Unam-spanbestuurder, sê die oefenweek was positief en produktief. “Ons is gereed en moet alles hanteer waarmee ons teenstander na vorendag kom. Daar is nie iets soos ‘n buiteperd wanneer dit by uitklopwedstryde kom nie. Die beste span sal wen.”

Visagie sê 'n paar "geringe" beserings kan moontlik tot laat onttrekkings lei, maar die groep bly uiters positief.

“Ons is opgewonde; ons het die hele jaar hiervoor gewerk. Moenie dat die ‘hype’ langs die veld jou aandag aftrek nie, maar gebruik dit eerder as brandstof om jou in die regte rigting te beweeg,” was sy boodskap.

Grootfontein het sewe keer in 16 wedstryde verloor, maar het nogtans geslaag om die verdedigende kampioen, Trustco United, asook Reho Falcon in 'n taai wedloop vir die eerste halfeindstryd in hul geskiedenis te klop.

Ogies Louw, afrigter van Grootfontein, sê: “Ons moes verskeie komplikasies hanteer op pad na 'n halfeindplek, maar dinge lyk goed vandat ons dit reggekry het. Nelius Theron en Renard Hattingh (eerstekeuse-stutte) is ons enigste beseerde spelers. Ons het 'n paar goeie oefensessies in die opbou tot hierdie wedstryd ingesit.”

Louw sê Unam sal as gunstelinge opdraf. “Ons is 'n nuwe perd in die wedren en Unam het ‘n bewese rekord as vorige kampioene. Hulle is 'n goed gebalanseerde span met baie spoed agter en 'n kragtige agttal. Ek weet ons kan meeding; ek wil hê die spelers moet uitgaan en speel op die beste manier wat hulle kan. Hulle moet ’n hoë vlak van dissipline handhaaf en by ons strukture hou.”

Alle wedstryde sal regstreeks op NTV (DStv-kanaal 285, GOtv-kanaal 25) sowel as op https://oneuptwo.com/ntv uitgesaai word.