Jong sterre onstuitbaar in Harare

Rugby
Namibië is gister bekroon as kampioen van die Rugby Afrika Onder-20 Barthés-trofee nadat sy junior span Tunisië oortuigend met 81-7 in Harare oorrompel het.

Ben Burger se span het van die eerste afskop af hul stempel afgedruk en geen genade vir die wenlose Tunisië getoon nie. Uiteindelik het Namibië 'n allemintige 13 drieë gedruk.

Die vleuels Jurgen Meyer (3) en Soobramoney Sammy, senters Van der Merwe Tromp en Jano Erasmus (2), slot JP Campbell (2), stut Gianluca Savoldelli (2), skrumskakel JD Rossouw en losskakel Maughan Jarman het drieë bygedra. Doelskoppe deur Jarman (7) en plaasvervanger Denver Beukes het die telling laat aangroei.

Tunisië se enigste hoogtepunt was 'n laat troosdrie deur slot Mohamed Yassine Dimassi.

Met oorwinnings teen Zimbabwe (41-22), Kenia (32-22) en nou Tunisië het Namibië hul naam weer boaan die Afrika-kompetisie gevestig. Hul eerste triomf sedert 2018 verbreek ook 'n sewejaar-droogteperiode.

In die laat wedstryd gister het Kenia met 21-20 die derde posisie voor die gasheer Zimbabwe weggeraap.