Hupstoot om meer laerskole te betrek

Skolerugby
Andrew Poolman
Officeconomix het sy gewig agter die Namibiese Laerskolerugbyvereniging vir die komende 2025-seisoen geplaas.

Mnre. Paul Oosthuizen en Gomes Casanova van Officeconomix het hul borgskap van N$50 000 bevestig wat hoofsaaklik aangewend sal word om rugbyballe te verskaf aan alle skole wat vir deelname aan die liga registreer.

Die borgskap is ontvang deur Mauritz Thirion, die voorsitter van die Namibiese Laerskolerugbyvereniging.

Thirion sê: “Ons was laasjaar 24 deelnemende rugbyskole in die land gehad. Ons o.11- tot o.13-ligas het baie goeie eindstryde opgelewer. Ons is wel bekommerd oor die afwesigheid van skole soos Eros en Van Rhyn wat tevore sterk rugbyskole in Windhoek was. Ons gaan 2025 gebruik om hierdie skole weer aktief te kry.

“In die Noorde het ook twee spanne vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd ingeskryf, van Oshakati en Ongwediwa van die Oshanastreek. Ons wil regtig moeite doen met hierdie skole, en ook Gobabis wat nie meer in die liga speel nie.

“Ons droom is om al ons streke te kry om te kan deelneem. Ongelukkig het ons ons groot borg vir deelname aan die nasionale weke in Suid-Afrika verloor, maar ons glo ons sal weer borge vind om die kinders vir 2025 aan te moedig.

“Ons het in 2024 ‘n kompeterende Cravenweekspan na SA gestuur. Een bydraende rede was dat ons reeds sedert 2023 ook jaarliks o.12-spanne na SA stuur. Hierdie toere help geweldig met daardie groot sprong na die kwaliteit van rugby in SA te oorbrug.

“Ons o.13 Cravenweekspan in 2024 het twee uit vier wedstryde gewen en beide verloorwedstryde was met klein verskille teen goeie spanne (Limpopo Blou Bulle en Griekwas).”