Grootfontein skud wenlose rekord teen Unam af
Klubrugby
Skeidsregter Ngatatue Mate het verras deur sy wedstryd op Rehoboth rustyd te beëindig.
Die eerstespan van FNB Grootfontein het ‘n gesogte deurbraak gemaak toe hy vir die eerste keer sedert sy toetrede tot die Namibië Rugbyunie se premierliga ‘n oorwinning teen FNB Unam behaal het.Grootfontein se oorwinning met 37-20 beteken die studentespan moes die terugreis punteloos aanpak, sonder dat hulle vier drieë kon druk óf binne sewe punte van die noordespan kon eindig.
Nadat Grootfontein laas jaar vir die eerste keer in die halfeindronde van die premierliga gespeel het, is die haker Wikus Jacobs en sy manne sterk geplaas om dié prestasie te herhaal.
Jacobs was opnuut een van die driedrukkers vir die wenspan, wat rustyd reeds met 25-8 gesag afgedwing het. Die ander driedrukkers was Rudi Pretorius, wat op losskakel gekies was om die beseerde Louis Grobbelaar te vervang, agtsteman Johan Luttig, linkervleuel Lazarus Joseph en plaasvervangerslot Oliver Mouton. As heelagter het Uroél Marais vier doelskoppe en twee strafdoele bygedra.
Grootfontein se agttal is ook versterk deur die insluiting van stutte Nelius Theron en Renard Hattingh, asook Pieter Daan Kok as flank.
Jacobs sê: “Ons hele span het opgedaag. Ná ons verloor by Wanderers (18-70; twee naweke gelede) het die manne dit baie persoonlik gevat en ons vlak bietjie hoër gedruk, so dit was maar ‘n absolute goeie spanvertoning.
“Ons vaste fasette was baie goed; ek dink ons het daar gedomineer.
Jacobs is ook in sy skik dat Grootfontein met geen nuwe beserings uit die stryd getree het nie. Sy span se oorblywende bepalings is teen FNB Dolphin (10 Mei, weg), en tuis teen FNB Rehoboth (24 Mei) en FNB Kudus ‘n week later.
Unam het Alcino Izaacs as sentermaat vir Camlo Martin terug verwelkom, met eersgenoemde ‘n driedrukker tesame met vleuel Shareave Titus en plaasvervanger-agterspeler Don Juan Beukes. Heelagter Davitho van Wyk (een strafdoel) en Aljarreau Zaahl (een doelskop) het skoppunte bygedra.
Skeidsregter groet rustyd
Die voortydige einde van die premierliga-tuiswedstryd vir FNB Rehoboth teen die voorloper FNB Wanderers het vir rugbyliefhebbers as ‘n groot verrassing gekom, berig Boet Matthews.
Die fluitjieblaser het geweier om met die tweede helfte te begin. Op daardie stiptyd het Wanderers reeds met die gerieflike voorsprong van 29-0 gewys hoekom hy die onoorwonne voorloper is.
Skeidsregter Ngatatue Mate het aangedui hy het genoeg van toeskouers se aanmerkings gehad en die handdoek ingooi dan is dit verseker die einde van ‘n goeie kragmeting. By navraag oor sy redes het hy geantwoord: “Ek sal eers die situasie met beamptes van die Rugby-unie bespreek voordat ek besluit of ek nog as skeisregter wil optree. Van die beledigings het ek genoeg gehad.”
Klubbeamptes aan albei kante meen egter daar was geen geldige rede om die wedstryd voortydig stop te sit nie. Uit die tuisspan se geledere is gesê: “Ons het bloot gevra of daar nie ‘n hoogvat was in die opbou na die laaste drie van Wanderers nie. Toe antwoord Mate hy het genoeg gehad en hy sê dis vir seker sy laaste wedstryd.”
Wanderers was ewe teleurgesteld in die skeidsregter se besluit. Hul direkteur van rugby Dirk Human he gesê: “Dis baie sleg; ons wou graag ná die omdraai die krane verder oopdraai vir ‘n dubbele bonuspunt. Ons moes net nog twee drieë druk (vir die minimum van sewe, wat ‘n tweede bonuspunt meebring). Dis sleg vir rugby, maar dit is wat dit is.”
Gedurende die 40 minute van aksie het Wanderers sy gedugte diepte uitgestal en met skitterende hardlooprugby sy opponente oorskadu. Die Wit Hingste was van vroeg af op die aanval en het die Rooi Bulle selde buite hul eie halfgebied toegelaat.
Rehoboth se hoofafrigter Jacky Bock was vol lof vir Wanderers se toonaangewende spelpeil.
“Ons was goed voorbereid, maar Wanderers se kondisionering het ons oë bietjie oopgemaak. ‘n Mens kon die vlak sien van hulle ouens wat die afgelope maande by die nasionale oefengroep betrokke is.
“Albei spanne se skrumwerk was stewig en by tye het ons dit reggekry om die oorheersing van hul lynstaanspringers Ruan Ludick en Joe Losper te ontwrig.”
Wanderers se drieë is aangeteken deur senters Danco Burger (2) en Danie van der Merwe, skrumskakel en kaptein Jacques Theron, en losvoorspeler Joe Losper. Die losskakel Johnny Mwenyo het twee keer verdoel.
United bly op sy wenpad
Trustco United was verlig oor die wenpunte teen FNB Reho Falcon in hul eerste wedstryd sonder losskakel Hanreco van Zyl, wat weens ‘n enkelbesering twee naweke tevore teen FNB Western Suburbs nie vanjaar weer rugby sal speel nie.
In Van Zyl se plek het Ricardo Swartz in die tuisoorwinning met 45-31 teen FNB Reho Falcon sy hand opgesteek met 20 skoppunte (vier doelskoppe, vier strafdoele) terwyl die Filistyne vyf keer die doellyn oorgesteek het.
Vleuel Christo Gresse, slot Zander Bronkhorst en stut Kamaa Kajau se drieë het United rustyd met 22-18 voor help plaas. Eers in die laaste tien minute kon senter en kaptein JD Nel en plaasvervanger-stut Callie Swanepoel nog vyfpunters byvoeg, maar Swartz se stewel het help sorg dat United vanaf die sesde tot 80ste minuut die voorloper was.
Vir Reho Falcon was die akkurate stelskopwerk van regtervleuel Ashton van Wyk ‘n goeie teken. Hy het net een keer mis gekorrel terwyl hy vier strafdoele en twee doelskoppe behaal het.
Met ses minute oor was Falcon net 31-35 agter, maar United se eindpoging het hulle van enige ligapunt weerhou. Die swart-en-rooies het net drie keer gedruk, deur skrumskakel Dillon Kahmann, agtsteman Thomas Kali en flank Martinus Nekundi.
Vyftigtal, volpunte vir Kudus
FNB Kudus het op Walvisbaai sy tweede posisie op die puntelys gekonsolideer met sy sege van 50-15 teen FNB Western Suburbs.
Vir die Kudus het senters Justin Newman (2) en PJ Walters, vleuel Lucio Isaacs (2), flank en kaptein Cameron Langenhoven en haker Zwandre Viviers die drieë vir die volle ses ligapunte ingeryg. Losskakel Michael Koopman (vier doelskoppe, een strafdoel) en plaasvervanger Kyle Wentzel (twee doelskoppe) was akkuraat met hul pogings.
Die Khomasdallers kon net met drieë deur flanke Delano van Wyk en Ethan Beukes antwoord, asook ‘n doelskop en strafdoel deur skrumskakel Bronwon Willemse.
Wedloop is aan
Op die puntelys van die NRU premierliga het geen spanne se posisies laas naweek verander nie. Al die spanne het sover reeds vier of vyf van hul agt wedstryde afgehandel, voor die semifinale wat vir 7 Junie geskeduleer is.
Die puntestand, uitslae, komende bepalings en nuus kan by www.fnbrugby.my.na gevolg word.
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article