Chrysander wil hardlooprugby herstel

Rugby
'n Toegewyde nasionale oefengroep is hard besig om hulle voor te berei op die komende uitdagings.
Otis Daniels
Plaaslik gebaseerde lede van die nasionale rugby-oefengroep is reeds hard besig om hul krag, kondisionering en fiksheidsvlakke sowel as vaardighede te verbeter met die fokus op kwalifikasie vir 'n agtste opeenvolgende Wêreldbeker in 2027 en uiteindelik daardie ontwykende eerste oorwinning by die wêreldtoernooi.

Chrysander Botha, wat op 5 November 2024 as afrigter van die nasionale span aangestel is om by sy voorganger Allister Coetzee oor te neem, sê: “Dis maar moeilik met die groot afstande en spelers wat ver van mekaar in Namibië woon.

“Ons het baie beplanning gedoen en diep gedelf om die beste spelers op die veld te kry en hulle te ontwikkel in oorleg met die Namibië Rugbyunie (NRU) wat help om daagliks ‘n geskikte omgewing vir oefeninge daar te stel.”



Doelgerig

Botha en sy ten volle Namibiese afrigtingspan wat Jaco Engels, Rohan Kitshoff en David Philander as hulpafrigters insluit, saam met die krag- en kondisioneringsafrigter Sergio de la Harpe, het 'n groep spelers byeen wat sedert die einde van verlede jaar reeds ernstig begin oefen het.

“Ons het 'n groep van tussen 40 tot 45 spelers wat op Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydagoggende oefen. Ons het verkies om terug te keer na die benadering van die ‘ouer dae’ waar nasionale spelers vyfuur soggens 'n gimnasiumsessie het, 'n fiksheidsessie vanaf 06:00 en ook 'n laaste sessie (18:00) saans op die oefenveld.

“Die volgende stap is om ons spelers op die veld te kry, en speeltyd te gee,” het hy gesê.

Luidens Botha pas dié skedule die spelers en bied hulle meer tyd op die oefenveld. “Diegene wat 'n werk het, word 'n rukkie gegun om te rus voor die laaste sessie in die namiddag en daar is geen onderbrekings in hul werkskedule nie, wat ook belangrik is."

Die afrigtingspan is ook hard aan die werk om enige gaping tussen plaaslike spelers en die wat in die buiteland professioneel gekontrakteer is, te laat krimp.

“Dit is 'n groot fokuspunt vir ons. Die verskil om 'n plaaslike speler te wees en om as 'n Vlak 2-speler te kwalifiseer, kom basies neer op internasionale gehalte en standaarde.

“Ons het baie tyd daaraan bestee om die plaaslike spelers op standaard te bring wat van hulle verwag word in terme van hul toetsing en uitslae,” het Botha verduidelik.



Opwindende speelstyl

Die tweede fase van die deurlopende oefenprogram behels om die manier tuis te bring waarop die afrigtingspan wil hê die span moet speel.

“Ons wil weer ons eie Namibiese genetika terug kr waar ons tevore meer ingesteld was om met die bal te hardloop, in plaas daarvan om dit te skop, ‘n speelstyl wat ons oor die laaste paar jaar gespeel het. Dit gaan alles daaroor om dit nou te implementeer en die ouens te kry om dieselfde prentjie te sien wat ons as afrigterspan in ons koppe het,” het Botha gesê.

Die NRU het vandeesweek aangekondig dat die Boland Kavaliers op 22 Februarie die Welwitschias kom uitdaag, voordat die Blou Bulle in Junie hier besoek aflê. Rugby Afrika se WB-kwalifiseringstoernooi lê in Julie in Uganda voor.



Spanpoging

Namibië se direkteur van rugby, Jacques Burger, sê hy is uiters trots op almal wat tot dusver by die nasionale opset betrokke is.

“Ons moet iewers begin. Ek is beïndruk met die manier waarop die ouens gewerk het en ook hul ingesteldheid. Dis maar nog net 'n paar weke, maar die manne het ongelooflik hard gewerk. Daar is ouens wat elke oggend van Rehoboth af ry om oefeninge toe te kom; hulle gaan dan werk toe en kom oefen weer in die middag, wat prysenswaardig is.”

Burger beklemtoon dat dit ‘n Wêreldbeker kwalifiserende jaar is. “Daar is 'n groot geleentheid vir elkeen om hul hand op te steek en daardie trui hul eie te maak. Ons het vir almal gesê die bal is in hul hande. Ons kan hulle al die geleenthede en al die gereedskap gee, maar hulle moet die geleentheid aangryp.”

Hy sê om terug te keer na die ou manier om vroegoggend te begin oefen en saans laat klaar te maak, is 'n toets van toewyding.

“Dis ook 'n toets van dissipline. Om deel te wees van hierdie groep beteken dat ons veerkragtig moet wees en vir mekaar moet veg. Wanneer jy daardie verbintenis maak, wys dit dat jy deel wil wees van die toekoms van Namibiese rugby. Ons kan 'n goed geoliede span word en deur te belê en te glo in wat ons doen, kan ons ook 'n taai span word,” het Burger beklemtoon.