Bokke moet Skotland se middelveldbedreiging hokslaan
Rugby
Die peil wat Glasgow Warriors se middelveldpaar, Sione Tuipulotu en Huw Jones, die afgelope weke vir beide klub en nasionale span getoon het, het hulle uitgewys as een van die groot bedreigings vir die Springbokke se kanse om hul Europese toer komende Sondag positief te laat begin.Die sterk baldraer, Tuipoluto, tesame met die finesse van die voormalige DHL Stormers-speler, Jones, aan sy buitekant, het 'n sterk rol gespeel in Skotland se groot oorwinning oor Fidji verlede naweek op Murrayfield.
Die paar sal fyn dopgehou en gemerk moet word wanneer die wêreldkampioene dieselfde stadion Sondag besoek.
André Esterhuizen het nie teen Jones gespeel toe die Warriors 'n paar weke gelede Durban vir hul Verenigde Rugbykampioenskap-botsing teen die Sharks besoek het nie. Die Skotland-senter het daardie wedstryd misgeloop, maar Jones is 'n speler vir wie die Sharks-ster, Esterhuizen, goed ken nadat hulle saam vir die Engelse klub Harlequins gespeel het.
“Die twee is natuurlik 'n puik senterpaar,” het Esterhuizen van Tuipulotu en Jones se middelveldvennootskap gesê tydens 'n pouse in die Bokke se opbou na die Murrayfield-kragmeting.
“Ons het baie wedstryde gekyk waar hulle die opposisie se verdediging in die internasionale opset en vir Glasgow oopgeskeur het. Hulle is twee groot spelers.
“Ek het 'n paar jaar saam met Huw by Harlequins gespeel, so ek ken hom redelik goed. Tuipulotu is ook 'n puik speler. Hy kan die bal laat loop en is ook ’n harde baldraer.”
Die Bokke se wedstrydgroep vir Sondag sal na verwagting eers vandag aan die media bekend gestel word. Dus is daar geen waarborg dat Esterhuizen vir sy eerste Bok-wedstryd ná sy rooikaart teen Portugal sal opdraf nie. Sy wedstryd teen Portugal in Bloemfontein in die middel Julie was binne die eerste vyf minute kortgeknip.
Damian de Allende is die eerstekeuse-binnesenter, maar Rassie Erasmus mag dalk reken dat Esterhuizen etlike maande uit aksie vir die Bokke was en 'n lopie teen die Skotte moet kry.
Indien Esterhuizen gebruik word, sê hy dis 'n uitdaging waarna hy uitsien en waarvoor hy gereed is. “Dit sal ’n goeie stryd in die middelveld wees. Ons is baie gretig daarvoor en sien uit daarna.”
– SuperSport
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article