Ysterperde kies koers na Bergquell

Motorfiets-enduro
Die NMSF sal sy kampioene in die onderskeie kodes vir 2024 binnekort by 'n gala-byeenkoms bekroon.
Tielman Van Lill
Ná ‘n stilte van meer as vier maande sal die Namibiese Enduro-motorfietsklub sy eerste byeenkoms sedert November 2024 en sy eerste nasionale kampioenskapskompetisie vir 2025 aanbied.

Die byeenkoms is komende Saterdag by Bergquell net suid van Okahandja geskeduleer. Itumba was verlede jaar op 2 Februarie gasheer vir die eerste nasionale enduro-kompetisie van die seisoen.

Vanjaar se nasionale kampioenskapsreeks sal soos verlede jaar in ses klasse met agt rondes beslis word.

Die onderskeie kampioene vir 2024 is Quinton van Rooyen, Heiko Stranghöner, Brandon Juling, Antonio Monteiro, Harry Kibble en Maike Bochert.

In Klas 2 het Quinton al agt rondes gewen en 160 punte vir sy nasionale titel ingesamel. Heiko het in Klas 5 ses byeenkonste gewen en een keer tweede vir sy 137 punte gekom.

Klas 7 is deur Brandon met 125 punte oorheers. Hy het André Barnard (124 punte) net-net met een enkele punt vir die eerste plek in die kampioenskap geklop.

Net drie punte skei Zoë Waldschmidt (tweede met 116 punte) in die groentjie-afdeling (Klas 10), waar Antonio eerste vir die seisoen met 119 punte geëindig het.

Die vooruitsigte vir kompetisie in die beginnerskompetisie (Klas 11) lyk op die oog af minder straf, maar dit beteken nie dat die jong deelnemertjies nie mekaar met mening die stryd aangesê het nie. Harry (77 punte) het Max Heigan met 20 punte vir die eerste plek uitgestof.

Die vroue-afdeling is gemaklik deur Maike ingepalm wat ook ‘n gerekende motocross-jaer is. Sy het ses byeenkomste gewen, vir 120 punte.



Die finale kampioenskapstand vir 2024:

Klas 2: 1 Quinton van Rooyen (160 punte), 2 Corné Visser (122), 3 Stuart Pearce (88).

Klas 5: 1 Heiko Stranghöner (137), 2 Jorn Greiter (108), 3 Gunther Gladis (103).

Klas 7: 1 Brandon Juling (125), 2 André Barnard (124), 3 Frederick van Greunen (66).

Klas 10: 1 Antonio Monteiro (119), 2 Zoë Waldschmidt (116), 3 Hilmar Griebel (105).

Klas 11: 1 Harry Kibble (77), 2 Max Heigan (57), 3 Cody Heigan (32).

Vroue-ontwikkelingsklas: 1 Maike Bochert (120), 2 Maria Wittreich (17).

Zoë is die enigste vrou wat die manne vreesloos in Klas 10 aandurf.

• Die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) sal sy kampioene in die onderskeie kodes vir 2024 volgende Saterdag by Wanderers in Pionierspark by ‘n gala-byeenkoms bekroon. Die bittereinders vir die eerste, tweede en derde plekke by enduro, langbaanrenne, motocross en tydrenne sal vir hul moeite en harde werk beloon word.



Die nasionale kampioenskapprogram vir 2025

1 Bergquell, 8 Maart.

2 Itumba, 5 April.

3 Yellowstone, 17 Mei.

4 Omaruru, 7 Junie.

5 Plaas Wewelburg, 5 Julie.

6 Karibib, 2 Augustus.

7 Yellowstone, 6 September.

8 Gallina, 4 Oktober.