Wêreldatletiek se koning en koningin: publiek kan stem

Atletiek
Faith Kipyegon en Noah Lyles was in 2023 as Wêreldatletiek se topatlete aangewys, maar wie gaan vanjaar met die elite titels wegstap?
Tielman Van Lill
Met die internasionale 2024-atletiekseisoen iets van die verlede, het die tyd vir Wêreldatletiek (WA) aangebreek om die topatlete van die jaar in verskeie kategorieë aan te kondig.

Vandat WA die twee finaliste vir elk van die ses afdelings aangekondig het, kan ondersteuners en atletiekliefhebbers wêreldwyd vir hul gunstelinge tussen 4 en 10 November stem.

Die kategorieë is vroue-baanatleet van die jaar, mans-baanatleet van die jaar, vroue-veldatleet van die jaar, mans-veldatleet van die jaar, asook vroue- en mansatlete (in die marathon en resiesstap) wat buite ‘n atletiekstadion presteer het.

Die finaliste is:

Vroue-baanatlete: Julien Alfred van Saint Lucia (Olimpiese 100 meter-kampioen), Sydney McLaughlin-Levrone van die Verenigde State (Olimpiese 400 m-hekkieskampioen).

Mans-baanatlete: Jakob Ingebrigtsen van Noorweë (Olimpiese 5 000 m-kampioen), Letsile Tebogo van Botswana (Olimpiese 200 m-kampioen).

Vroue-veldatlete: Yaroslava Mahuchikh van Oekraïne (Olimpiese hoogspringkampioen), Nafissatou Thiam van België (Olimpiese sewekampkampioen).

Mans-veldatlete: Armand “Mondo” Duplantis van Swede (Olimpiese paalspringkampioen), Miltiadis Tentoglou van Griekeland (Olimpiese verspringkampioen).

Vrouemarathonatlete: Ruth Chepngetich van Kenia (wêreldrekordhouer), Sifan Hassan van Nederland (Olimpiese kampioen).

Mans marathon en resiesstap: Brian Pintado van Ekwador (Olimpiese 20 km-resiesstapkampioen), Tamirat Tola van Etiopië (Olimpiese marathonkampioen).



Van die atlete se bykomende prestasies in die afgelope jaar:

Julien Alfred: Eerste in die 100 m-Diamantligafinaal.

Sydney McLaughlin-Levrone: Wêreldrekord (50.37 sekondes) by die 2024 Olimpiese Spele opgestel, wat haar eie vorige wêreldrekord van 50.65 sekondes verbeter het.

Jakob Ingebrigtsen: Wêreldrekord in 3000 meter (7:17.55).

Letsile Tebogo: Tweede in 100 m by Diamantligafinaal.

Yaroslava Mahuchikh: Hoogspringwêreldrekord (2.10 meter); eerste by Diamantligafinaal.

Nafissatou Thiam: Voorste sewekampatleet.

Armand “Mondo” Duplantis: Vier wêreldrekords (tans 6.26 meter) en 2024 Olimpiese rekord, eerste by Diamantligafinaal.

Miltiadis Tentoglou: Eerste by Europese kampioenskap, derde by Diamantligafinaal.

Ruth Chepngetich: Eerste by Chicago-marathon.

Sifan Hassan: Olimpiese marathonrekord.

Brian Pintado: Voorste renstapper.

Tamirat Tola: Vierde in New York City-marathon.

Duplantis en Mahuchikh was op 26 Oktober as die 2024 Europese Atlete van die Jaar by die Golden Tracks-toekenningsaand in Skopje, Republiek van Noord-Masedonië bekroon.

Die Atlete van die Jaar in elke kategorie, sowel as die algehele vroue- en manswenner, sal op Sondag 1 Desember by ’n seremonie in Monaco as deel van die Wêreldatletiektoekennings 2024 bekend gemaak word.

[email protected]