Vele kodes uit vir 2026 Statebondspele

Glasgow 2026
Tielman Van Lill
Die snoeiskêr is ingelê in die 2026 Glasgow Statebondspele in Skotland wat sonder 13 voorheen gebruiklike sportkodes aangebied sal word.

Die drastiese stap was egter nodig om te verseker dat die Statebondspele voortleef.

Die enigste tien sportkodes wal wel die regmerkie gekry het, is atletiek, baanfietsry, boks, 3x3-basketbal, gewigoptel, gimnastiek, judo, netbal, rolbal en swem.

Para-sport sal opnuut ten volle geïntegreer wees as 'n sleutelprioriteit met ses para-sportsoorte op die program. Dié kodes is para-atletiek (baan en velditems), para-baanfietsry, 3x3-rolstoelbasketbal, para-gewigoptel, para-rolbal en para-swem.

Weens astronomiese uitgawes om ‘n Spele aan te bied, is besluit om duik, hokkie, fietsry (pad- en bergfiets), krieket, muurbal, pluimbal, sewesrugby, die skietsporte, stoei, strandvlugbal, tafeltennis en triathlon af te skaf.

Die 23ste uitgawe van die Statebondspele is van 23 Julie tot 2 Augustus 2026 geskeduleer en keer ná twaalf jaar terug na Glasgow waar die uiters suksesvolle 2014 Statebondspele gehuisves was.

Vier venues binne 'n radius van ses kilometer is geïdentifiseer waar die tien sportkodes se kompetisies aangebied sal word. Die idee is om ‘n feestelike gevoel te skep en om dit vir toeskouers aanloklik te maak om die kompetisies by te woon. Die maklik bereikbare venues sal ook uitsaaiers se taak makliker maak om elke sport te beeldsend.

‘n Uitgesoekte nagenoeg 3 000 atlete van 74 Statebond-lidlande sal genoeg aksie verskaf om die meer as 500 000 kaartjies te verkoop.

Die vier venues is die Scotstoun-stadion, die Internasionale Tollcross-swemsentrum, Emirates Arena (insluitend die Sir Chris Hoy Velodrome) en die Scottish Event-kampus (SEC). Atlete en ondersteuningspersoneel sal in hotelle gehuisves word.

Katie Sadleir, uitvoerende hoof van die Statebondspelefederasie, het gister gesê: ''Namens die hele Statebondsportbeweging is ons verheug om amptelik te bevestig dat die 2026 Statebondspele in die gasheerstad, Glasgow, sal plaasvind.

“Die Spele beloof ‘n ware meesleurende fees, deur die viering van kulture, diversiteit en sport wat atlete sal inspireer. Hierdie Spele sal meer toeganklik vir toeskouers as ooit tevore wees.”

Die uitvoerende hoof van Statebondspele Skotland, Jon Doig, het gesê: “Ek wil Statebondspele Skotland vir hul harde werk en toewyding bedank om 'n lewensvatbare voorstel vir Glasgow 2026 te lewer.

“Baie dankie aan die Statebondspele-federasie en Statebondspele Australië vir hul bystand en hulp om die Spele te verseker. Ek glo dit is ‘n vertoonstuk van die Statebond-gees en van die gewilligheid om saam te werk.”



TERUGFLITS

By die 2014 Statebondspele in Glasgow het die siggestremde naelloper Lahja Ishitile (brons in die 100 meter T12), die Paralimpiese verspringer Johanna Benson (brons, T37/38) en bokser Junias Jonas (silwer) die enigste medaljes vir Namibië beklink.

Helalia Johannes was vyfde in die vroue-marathon en Beata Naigambo tiende. Dan Craven was negende in die padfietsresies en Vera Looser 16de in die bergfietsry.

[email protected]