MX-waansin op sy beste by Gallina

Motocross
Elke resies tel by die laaste geleentheid om die kroon op te eis.
Tielman Van Lill
Die agtste en laaste rondte van die Namibiese motocross-kampioenskap vind môreoggend van elfuur by die Gallina-baan noord van die hoofstad plaas.

Die finale kragmeting van die nasionale motocross-kampioenskap is hier! Entoesiaste behoort beslis nie die laaste en mees opwindende geleentheid van die jaar by die Gallina-motocross-baan mis te loop nie.

Dis die beslissende wedrendag van die jaar wat ‘n verskil tussen die titel en ‘n tweede plek kan maak. Aangesien die topjaers van oraloor die land alles vir 'n laaste kans op glorie sal gee, kan hewige tweestryde, intense mededinging en adrenalien-aangedrewe aksie op die baan verwag word.

Alles gaan egter nie net oor die wedrenne nie. Of jy nou 'n geswore motocross-fanatikus is of net lus is vir 'n opwindende dag uit, daar is iets vir almal. Smaaklike kosstalletjies is gereed om die honger te verdryf en yskoue drinkgoed sal enige mens se dors wegslaan. ‘n DJ sal heeldag die musiek speel om die gees aan die gang te hou.

Die hoogtepunt van die dag is die uiters opwindende King of the Dirt wat laaste gejaag word om die dag af te sluit.

Maak vriende bymekaar, bring die familie, en gaan maak die laaste geleentheid van die seisoen een om te onthou! Dit is motocross-waansin op sy beste.

Die hekke maak reeds 06:00 op en toegang kos slegs NS20 per persoon voor 16:00, of N$40 daarna, terwyl kleuters gratis toegang het.

Die kompetisie word deur Pupkewitz Honda, Waldschmidt Eggs, In+Go Storage, NamXsport, Holm's Construction, OSH-Med International, Kickstartnam, Fourie Security and Armed Response, Nictus Namibia, Thompson’s Electronics and Technology (Teltech), Propshaft Engineering, Ernst Lerch & Co, Architectural Outlet CC, PSA Namibia, Motul Namibia en Monster Energy ondersteun.

[email protected]