Jamaika, Engeland wag ná Proteas se Swakop-sending

Netbal
Suid-Afrika se netbalspan gaan volgende maand met Afrika-spanne kragte meet voordat hy na die buiteland reis om twee groot kanonne die stryd aan te sê.

Nadat die Proteas pas skoonskip gemaak het in die Spar-uitdaagreeks en Malawi met drie-nul in Johannesburg geklop het, is hul volgende sending die Afrikabeker-toernooi.

Dit begin op 9 Desember in Swakopmund, Namibië.

In dié stadium het Malawi en Uganda hul deelname daar bevestig. Suid-Afrika is vyfde op die wêreldranglys, Uganda sesde en Malawi sewende.

Suid-Afrika het 2021 se toernooi in Windhoek gewen.

Die Proteas, Uganda en Malawi het vanweë hul deelname aan die Wêreldbeker-toernooi in Julie en Augustus nie aan verlede jaar se toernooi in Gaborone, Botswana, deelgeneem nie. Zambië het Namibië toe in die eindstryd in bykomende tyd geklop.

Die Proteas se groot toets wag middel Januarie wanneer hulle na Jamaika reis om dié eilandspan – nommer vyf in die wêreld – te pak.

Uganda en Malawi is in Februarie wéér die Proteas se teenstanders, tesame met Engeland, wanneer die Nasiesbeker-toernooi in Nottingham en Londen beslis word.

Intussen sal Jenny van Dyk, die Protea-afrigter, styf duim vashou dat nie een van haar spelers ’n besering opdoen in die Fast5-Wêreldtoernooi nie.

Vier Proteas wat teen die Malawi Queens in aksie was, is die naweek in Christchurch vir die SA span in dié toernooi in aksie.

Rolene Streukter, Kamogelo Maseko, Boitumelo Mahloko en Ané Retief het hulle Maandag by hul Fast5-spanmaats aangesluit.

– Netwerk24