Gewilde straatmyl lok hardlopers van wyd en syd

Padwedlope
Martha Shivelo en David Dam het in 2023 die senior vroue- en mansresies op Omaruru gewen, terwyl Roodley Gowaseb die rolstoelresies ingepalm het.
Tielman Van Lill
Die elfde Omaruru Erongo PowerSave-straatmyl sal komende Saterdag opnuut die rustige dorp se hoofstraat op horings neem wanneer ‘n geskatte 1 500 vroue- en mansatlete mekaar in ses kategorieë die stryd aansê.

Die FNB-banktak op Omaruru, asook Coca-Cola is weer die ondersteunende borge vandat die kompetisie in 2013 die eerste keer aangebied was.

Atlete sal kosteloos vanuit verskeie streke oraloor Namibië deur die ministerie van sport, jeug en nasionale diens na Omaruru vervoer word.

Atlete het die geleentheid om Vrydag vanaf 09:00 tot 23:00 by hul naaste kantoor van die sportministerie kan registreer. Laatslapers en diegene wat nie die vorige dag betyds kon registreer nie, kan ook Saterdagoggend tussen 06:00 en 07:30 gou-gou hierdie takie afhandel.

Verlede jaar het 1 402 atlete deelgeneem, maar Bethold Karumendu, sportbeampte van die streek en hooforganiseerder van die straatmyl, sê selfs meer belangstelling word verwag.

“ Uit Botswana verwag ons atlete van die Orapa-atletiekklub, Gaborone Front Runners en Jwang-atletiekklub. Die prysgeld en medaljes is nie te versmaai nie. Die prysuitdeling sal om 13:00 by die munisipaliteit gehou word,” het Karumendu gesê.

Die wegspringtye en prysgelde van die onderskeie kategorieë se wedlope oor 1.6 kilometer:

08:00 en 08:30, meisies en seuns (9 tot 13 jaar). 1ste N$2 000, 2de N$1 000, 3de N$700, 4de N$500, 5de NS300.

09:00 en 09:30, meisies en seuns (14 tot 19 jaar). 1 N$5 000, 2 N$3 000, 3 N$2 000, 4 N$1 000, 5 N$700.

10:00, veteraan vroue en mans (40 tot 49 jaar). 1 N$3 000, 2 N$2 000, N$1 000.

10:30, meesters vroue en mans (50 jaar en ouer). 1 N$1 500, N$1 000, 3 N$700.

11:00 en 11:30, senior vroue en senior mans (20 tot 39 jaar). 1 N$7 000, 2 N$5 000, 3 N$3 000, 4 N$2 000, 5 N$1 000, 6 N$700, 7 N$500.

12:00, rolstoelresies vir vroue en mans (T53- en T54-klas). 1 N$3 000, 2 N$2 000, N$ 1 000.

[email protected]