Doepa se effek op vroue omvangryk

Atletiek
Studies om die werklike impak van hormoongebaseerde geboortebeperking op die vertoning van vroueatlete te bepaal, het nog skaars die oortjies van die seekoei ontbloot.
Tielman Van Lill
Die moontlike effek van die medikasie wat op die Namibiese Olimpiese naellopers Christine Mboma en Beatrice Masilingi afgedwing is om hul natuurlike hoë testosteroonvlakke te verlaag, is omvangryk.

Beide Mboma en Masilingi is gedurende die vierjaarsiklus voor die afgelope Parys 2024 Spele deur Wêreldatletiek verbied om amptelik aan atletiek deel te neem, met die verpligte gebruik van medikasie totdat hul testosteroonvlakke konstant op 2.5 nanomol per liter (nmol/L) vir ‘n sekere tydperk gehandhaaf is.

Mboma en Masilingi is intussen weer terug op die atletiekbaan, maar het nie binne hul betreklik kort toegelate periode daarin geslaag om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer nie. Die nagevolge van die medikasie op hul liggame en psige is ooglopend steeds ‘n beduidende faktor.

Sport Wrap het by internasionale kenners op die gebied navraag gedoen oor die navorsing rakende die gebruik van die toepaslike medikasie.

Dr. Laura DeCesaris van Arizona skryf: “Hormoonvoorbehoedmiddels kan op verskeie vlakke ‘n impak op ‘n vroueatleet hê. Afhangend van die sport sal atlete konstant hul spiermassa en gewig dophou. Belangrike aspekte is ‘n atleet se maksimale suurstofopname (VO2 Max), reaksie- en hersteltyd in vergelyking met hul oefenprogram.”

Die simptome

Vroue is geneig om vinniger gewig aan te sit, al is hulle aktief en hoë bloeddruk is nie uitgesluit nie.

Relatiewe energietekort in sport is 'n toestand waarin die liggaam 'n te groot gaping tussen energie-inname en energieverbruik ervaar. Dit lei tot dalings in estrogeenvlakke, wat kan lei tot die afname in beendigtheid, en selfs simptome soos moegheid, spierkrampe of angs kan voorkom.

Invloed op VO2 Max

VO2 Max is die maatstaf van hoeveel suurstof jy tydens oefening of kompetisie absorbeer. Oor die algemeen, hoe hoër die VO2 Max, hoe beter – wat beteken dat die liggaam meer doeltreffend is om suurstof aan spiere te lewer.

Daar is bewyse dat 'n gekombineerde orale voorbehoedmiddel (een wat estrogeen en progestien bevat) VO2 Max in vroulike atlete verlaag, wat dit moontlik laat voel asof die atleet nie 100 persent tydens haar sport nie kan gee nie.

Effek op testosteroon en spiergroei

Vroue met ‘n lae testosteroonvlak kan moegheid, spierswakheid, depressie of ander gemoedsversteurings ervaar, wat atletiese prestasie negatief kan beïnvloed.

Hormonale geboortebeperking kan totale testosteroon en vrye testosteroon verminder terwyl geslagshormoonbindende globulien verhoog word.

Hoewel dit 'n rede is dat orale voorbehoedmiddels dikwels voorgeskryf word om toestande van hoë testosteroon by vroue te bestuur, word androgene soos testosteroon as voordelig vir vroulike atletiese prestasie beskou.

Testosteroon het 'n anaboliese effek op die liggaam, wat vroue help om spier- en beendigtheid te bou, asook om hemoglobien op te neem om optimale suurstoflewering aan die weefsels te ondersteun.

Vroue op hormonale geboortebeperking wat progestien bevat, het minder spiermassa opgetel gedurende 'n 10-week oefenprogram wat ontwerp is om krag op te bou. Hulle het ook hoër streshormoonvlakke tydens en ná oefensessies ervaar, asook die gebrek aan insulienagtige groeifaktor wat 'n rol in spiergroei speel.

Sink, foliensuur, kreatien, selenium, magnesium, yster, vitamin C en B -vitamines is van kardinale belang vir basiese metaboliese behoeftes en hormoonproduksie.

Vir atlete vir wie uithouvermoë noodsaaklik vir prestasie is – soos naellopers, fietsryers, padwedloopatlete en swemmers – kan VO Max-toetsing vroue help om te verstaan of hul hormonale geboortebeperking hul prestasie beïnvloed.

Leefstyl

Stresbestuur is 'n belangrike komponent van enige atleet se leefstyl en kan veral belangrik wees vir atlete wat hormonale geboortebeperking gebruik.

Soos vroeër genoem, kan orale voorbehoedmiddelgebruikers hoër kortisol tydens en na oefensessies ervaar; dus is dit belangrik om die stresreaksie te reguleer wanneer hulle nie oefen nie, sodat sy nie voortdurend in 'n hoë-kortisoltoestand is nie.

Chronies verhoogde kortisol kan oefendoelwitte, spiermassa en sekere hormoonvlakke negatief beïnvloed, wat prestasie kan verlaag en die risiko van besering of siekte by atlete kan verhoog.

Hormonale geboortebeperking kan ook belangrike simptome verdoesel dat die liggaam nie herstel of nie by oefen-intensiteit aanpas nie. Dit kan mettertyd gebruikers se risiko vir siekte en beserings vergroot.

[email protected]