Strydom beseer in resiesongeluk

Langbaanrenne
Tielman Van Lill
Die derde been van die Namibiese nasionale langbaanresieskampioenskap het Saterdag by die Tony Rust-renbaan sy gebruiklike aksie opgelewer, maar die onwelkome ongeluk van Michael Strydom was beslis nie deel van die plan nie.

Die voorval het tydens die derde resies plaasgevind toe Strydom se voertuig van die baan getol het. Dit was aan die einde van die pylvak teen volspoed voor ‘n 140-grade draai na links, toe die remme klaarblyklik ingegee het.

Hy het deur die bandversperring gebars waarna sy Klas B Klubmans Toyota Conquest etlike meters getol het voordat dit ongeveer 100 meter verder in die veld tot stilstand gekom het. Die derde resies is ná hierdie voorval gekanselleer.

Strydom was gister steeds in die hospitaal, maar nie in ‘n kritieke toestand nie. Hy sou gister omstreeks 13:00 ‘n operasie aan sy een gewrig ontvang het. Een van sy sleutelbene is gebreek en hy het ‘n fraktuur aan sy Th12-rugwerwel. Volgens Strydom se pa, Clive, is dié besering nie so erg nie en Michael behoort te herstel.

Die ongenaakbare druk op die jaers se wapens van keuse om die pas vol te hou, het ook sy tol geëis. Agt van die deelnemers kon nie hul wedren voltooi nie.

Strydom junior sal vir die res van die resiesseisoen buite aksie wees.



Saterdag se voorste uitslae:

Super sedans: 1 Mark Sternagel.

Klubmans Klas B: 1 Nadine Liebenberg, 2 Hein Bisschoff, 3 Michael Strydom.

Klas C: 1 Ewald Bisschoff, 2 Devon Farmer.

Klas D: Geen uitslag.

Klas E: Geen uitslag.

Klas F: 1 Charné Havenga, 2 Craig Bisschoff.

[email protected]