Ovaalbaan brul weer heerlik vir ‘n slag

Motorsport
Leandrea mouers
Ovaalbaanrenne buite Walvisbaai is ná bykans vyf jaar weer aan die orde van die dag nadat die Walvisbaai-motorklub die ou baan in sy volle glorie herstel het.

Die vierde ronde van die Namibiese nasionale ovaalbaankampioenskap het Saterdag met 28 inskrywings ‘n propvol program van aksie, opwinding en hoë-oktaanbrandstofverbruik gelewer.

Michael Behnke van die Walvisbaai-motorklub sê dit was heerlik om weer op tuisbodem te kon jaag.

“Ons was verplig om vir meer as drie jaar elders in die land te gaan jaag. Al die pad Tsumeb toe, maar dit was wonderlik om al die karre en deelnemers te sien opdaag. Dit was regtig verstommend! Mense het van Tsumeb, Walvisbaai en Windhoek gekom.

“Dit was die vierde ronde van die Namibiese nasionale ovaalbaankampioenskap. Ons is nog nie seker waar die vyfde ronde aangebied gaan word nie. Ons is besig om die datum te bepaal en dit kan moontlik op Tsumeb of hier by ons wees.

“Ons wil soveel renne as moontlik by Walvisbaai hou en ons kyk na die eerste week in Desember. Ons behoort nog vandeesweek meer te weet.

“Ons het voor Covid-19 laas ovaalbaanrenne hier buite Walvisbaai gehad. Ons baan is in geheel herbou en ná amper vyf jaar is ons weer terug.”

Die voorste uitslae

Agtsilinders (vyf inskrywings)

1 Michael Behnke, 2 Armandt Swart, 3 Frikkie Engelbrecht.

Vierwielmotorfietse (kwads; nege inskrywings)

1 Stefan Borruso, 2 Ricardo Demmel, 3 Johannes Grobler.

Hotrods (ses inskrywings)

1 Frank Borruso, 2 Willy van Wyk, 3 Bertus van den Heever.

Agtklep-afdeling (agt jaers)

1 Jaco Coetzer, 2 Jacobus van Dyk, 3 Bertus van den Heever.