Nasionale tydrenkampioenskap tel spoed op

Motorsport
Van die bekende ryers het in die oorblywende byeenkomste inhaalwerk om te doen.
Tielman Van Lill
Die Tsumeb-tydren, wat ook die tweede rondte van die Namibiese nasionale kampioenskap is, is Saterdag deur Willie Schoeman en Chané Havenga in die CR1-veldklas gewen, terwyl Richard Himmel en Adolf Botes hul oorwinning in die S1-sedanafdeling beklink het.

Schoeman en Havenga het die afstand van 101.58 kilometer in 1 uur 13 minute 56 sekondes voltooi en het die 2x4-Toyota Hilux teen gemiddeld 84.54 kilometer per uur deur die nege spesiale sneldele en draaie gelooi.

Schoeman en Havenga was Saterdag werklik puik op dreef in die CR1-klas. Die duo palm agt sneldele in en het nog een gedeel met Ekko Eisenberg en Rassie Rietz se CR1-klas 2x4-JAC-bakkie, wat die tweede posisie opgeraap het.

Werner Bartsch en Madeleine Koegelenberg neem die derde plek in met sy CR2-klas 4x4-Ford Courier-bakkie.

Himmel en Botes se S1-klas 2x4-Toyota Etios het in 1:04.58 sy kant oor dieselfde afstand en aantal sneldele gebring en het teen 96.19 km/h blitsig bestuur.

Hulle wen al nege spesiale sneldele (SS’e) teen Zachary Martin en Anique Schoeman met ‘n S2-klas 2x4-VW Polo in die tweede posisie. Pieter Greeff en JP Robinson doen min verkeerd en eindig tweede in die S1-klas en algeheel derde in die sedanafdeling met Greeff se 2x4-Toyota Corolla.



Slagoffers

Die Noorde het sy gebruiklike kwota slagoffers geëis. Jandré Dippenaar en Gielie Visser het in die eerste twee sneldele sewe minute 36 sekondes met Dippenaar se CR2 4x4-Hilux teen Schoeman-hulle verloor, maar het vanaf SS3 tot SS6 puik gevaar deur Schoeman en Eisenberg ver te klop.

Gedurende hierdie vier skofte herwin Dippenaar vier minute twee sekondes. Die Dippenaar-span moes ongelukkig die Hilux parkeer en kon nie die laaste drie sneldele aanpak nie.

In die sedan-afdeling groet Jaco en Koos Coetzer (S2 2x4-VW Golf MK2) die kompetisie ná die eerste sneldeel, terwyl Peer Röhm en Pieter Steyn (S2 2x4-Ford Eskort MK2) ná die vierde sneldeel by hulle aansluit.

Wido Bartsch en Steven Robinson (S2 2x4-VW Polo) breek die wielnaaf van die regteragterwiel tydens sneldeel 7, wat die einde van hul pret beteken.

Die gedugte Loic Bathfield kon weens ander persoonlike verpligtinge nie aan die tydren deelneem nie.

Die voorste uitslae:

CR-klas algeheel: 1 Schoeman/Havenga (1:13.56, 84.54 km/h), 2 Eisenberg/Rietz (1:15.26, 82.38 km/h), 3 Bartsch/Koegelenberg (1:27.28, 72.72 km/h).

CR1: 1 Schoeman/Havenga, 2 Eisenberg/Rietz.

CR2: 1 Bartsch/Koegelenberg.

S-klas algeheel: 1 Himmel/Botes (1:04.58, 96.19 km/h), 2 Martin/Schoeman (1:07.21, 93.28 km/h), 3 Greeff/Robinson (1:13.09, 85.46 km/h).

S1: 1 Himmel/Botes, 2 Greeff/Robinson, 3 De Wet du Plessis/Morné Bruwer (2x4-Toyota Corolla, 1:13.56, 84.39 km/h).

S2: 1 Martin/Schoeman.

[email protected]