Yster Derek raap hoogste eer in buurland op

Motorsport
Die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) is propvol lof vir Derek Jacobs se prestasie.
Tielman Van Lill
Derek Jacobs, die sekretaris-generaal van die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF), is Sondag by Emperors Palace in Johannesburg, Suid-Afrika, deur Motorsport Suid-Afrika (MSA) met ’n Golden Helm-toekenning vereer.

Sy voetspore in Suid-Afrikaanse motorsport loop oor etlike dekades van toewyding, passie en liefde vir die sportkode, wat tydrenne asook langbaanrenne insluit.

Derek se invloed en impak by die NMSF, die hele Namibië en Afrika, is onuitwisbaar en legendaries.

Danny Tjongarero, die president van die NMSF, sê: “Dit is met groot eer en plesier dat ek hiermee aankondig dat ons sekretaris-generaal, Derek Jacobs, met die gesogte MSA Golden Helm-toekenning bekroon is. Die MSA Nasionale Toekennings is Sondag in Gauteng gehou waar Derek ’n eregas was.

“Die MSA Golden Helmet-prys is ’n gesogte toekenning wat deur Motorsport Suid-Afrika toegeken word om erkenning te gee aan individue vir hul bydraes tot motorsport en ook prestasies in motorsport oor etlike jare.

“Dit word as die MSA se hoogste vorm van erkenning geag. Die tradisie van die Golden Helm-toekenning het begin toe mededingers gejaag het om ’n Golden Helm-wisseltrofee te wen. Die trofee sou gehou word tot die volgende uitdaging.

“Derek het die afgelope vier dekades ’n reuse-impak op Suid-Afrikaanse motorsport gemaak. Hy was veral by tydrenne as navigator betrokke en het in 1982 as ’n tydrenbeampte begin. As opleidingsbeampte was hy vir opleiding by Motorsport Suid-Afrika betrokke wat ’n sleutelrol in die ontwikkeling van die sport gespeel het.

“Dit spreek vanself dat Derek dit verdien en die NMSF se uitvoerende komitee en sy lede wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om die wonderlike prestasie saam met Derek te vier en hom geluk te wens.”

Derek is die afgelope paar jaar besig om motorsportopleding oraloor Afrika te behartig en te bevorder.

Derek het aan Sport Wrap gesê: “Ek wil graag hê my storie moet as inspirasie vir mense dien wat nie kan bekostig om motorsport te beoefen nie.

“Al het ek wel aan motorsport deelgeneem, is dit vir my belangriker om deur ontwikkeling deel van motorsportgeskiedenis te wees.

“Mense sien die eindproduk van motorsport met byeenkomste, maar niemand weet wat dit agter die skerms verg om daar met ontwikkeling te kom nie.

“Ek het heel onder met niks begin nie en my oor die jare opgewerk tot waar ek vandag is. En ná al die jare het ek ’n toekenning gekry vir die belangrike rol wat ek veral in tydrenne in Suid-Afrika gespeel het.”

[email protected]