Oranjemund goed vir gholf

Gholf
Tielman Van Lill
Yolanda Pienaar en Peet van der Merwe het laas naweek die sesde rondte van die Nedbank for Good-gholfreeks op Oranjemund ingepalm.

Van der Merwe het met 43 punte die mansafdeling oorheers. Woudter Ludeke het die tweede posisie met 39 verseker en Gerrit van Rooyen met 38 was derde.

Magnaem Simon het wel die vroeër toernooi op Tsumeb gewen, maar is Saterdag in die vroue-afdeling deur Pienaar vir die eerste plek geklop.

Pienaar sê sy het ‘n fantastiese dag op die Oranjemund-gholfklub se baan gehad terwyl sy tot ‘n goeie saak kon bydra.

“Ek nooi ander vroue uit om by ons te kom aansluit. Gholf is goed vir die gesondheid, vir pret en vir netwerkdoeleindes. Korporatiewe maatskappye behoort kompetisies soos hierdie te ondersteun, want dit bied ook goeie advertensiegeleenthede vir hulle,” het Pienaar gesê.

Geld wat vanjaar deur die die Nedbank for Good-gholfreeks ingesamel word, gaan aan Agra ProVision wat agtergeblewe boerderygemeenskappe oplei en ondersteun.

Gernot de Klerk, bemarking- en kommunikasiehoof van Nedbank, sê: “Ons is verheug om deel van hierdie inisiatief te wees wat streef om onderbediende landbougemeenskappe direk op te lei, te diens en te ondersteun. Ons deelname aan die reeks is in ooreenstemming met ons doelwit om geldkundiges te wees wat positief bydra."

Die volgende toernooie in die reeks volg op 17 Augustus op Hentiesbaai, 24 Augustus op Swakopmund, 31 Augustus op Walvisbaai en 14 September by Windhoek-gholfklub voor die finaal op 4 Oktober by die Omeya-gholfklub.

Die Nedbank for Good-reeks word ook deur Pupkewitz Toyota, Gondwana Collection Namibia, CB Enterprises, Africa Personnel Services, Erongo Marine Enterprises, Pupkewitz Megabuild, Agra, JTC Namibia, The Logistics Company Namibia, AfricaOnline, Vivo Energy en Future Media ondersteun.

[email protected]