Nardo tops by Bachmus-gholfdag

Gholf
‘n Stewige veld van veertig spelers was verlede naweek by die Bachmus-gholfdag by die Walvisbaai-gholfklub in aksie.

Die formaat was een wat minder gereeld gespeel word; die eerste nege putjies was medalje en die tweede nege stableford. Die stableford-telling word van die medaljetelling afgetrek, met die laagste telling die wenner.

Nardo Sardinha het 36 punte op die eerste nege putjies behaal en en dit met ‘n goeie 23 oor die tweede nege opgevolg, om die dag met sy telling van 13 te wen.

Die kampioen het twee houe voor Wouter van Wijk op 15 (34-19) geëindig. Die derde plek het aan Pedro Fernandes met 18 punte (38-20) gegaan.

Die twee pryse vir die hou naaste aan die pen is gewen deur Piet van Niekerk op putjies 2 en 11 en Wishes Nyoni op die 18de.

Jaco Marais was namens Bachmus byderhand om die pryse uit te deel en het bevestig dat die borgskap volgende jaar voortgesit sal word.

Die Walvisbaai-klub se toernooie komende naweek is die Multisave-medalje en Medal Mania met rondte sewe wat gespeel moet word en drie tellings wat tel.