Martin en Shitaleni pak tasse na Tenerife

Gholf
Die wenners van die gesogte gholfprys het ook 'n kans om by die wêreldfinaal hul merk te gaan maak.
Tielman Van Lill
Afwagting, opwinding en tergende senuwees was Vrydagoggend aan die orde van die dag toe 60 gholfspelers vir die eindrondte van die King Price Namibië Internasionale Parespelreeks by Omeya se baan afgeslaan het.

Ná dag een Saterdagoggend het die dertig pare die tweede rondte van 18 putjies by die Windhoek-gholfklub se baan gaan voltooi. Hoewel die voorlopers die eerste spelers op die baan was, was die wenpaar geensins ‘n uitgemaakte saak nie.

Die kompetisie en mededinging was uit die hoogste rakke en net ‘n enkele punt het die wenners en die paar in die tweede plek geskei. Inteendeel, die tweede, derde en vierde plekke het almal op uittel met 82 punte van die baan gestap.

Ná ‘n klipharde dag en intense konsentrasie op die gholfbaan, is Joseph Martin en Thomas Shitaleni laat Saterdagnamiddag as die wenpaar aangewys.

Dewald van der Merwe en Jaco Beukes het die tweede posisie ingeneem, terwyl Richard Grobler en Stefanus Nel die derde plek ingeneem het.

Martin en Shitaleni sal Namibië van 30 September op die eiland Tenerife, Spanje, by die wêreldfinaal van die Internasionale Parespelkampioenskap verteenwoordig. Martin handhaaf ‘n puik rekord in die reeks met verskeie vorige kwalifiserings vir die wêreldfinaal – en met Bertus Damon as sy spanmaat was die twee in 2018 ook die eerste wêreldfinaalwenner uit Afrika.

Die wenpaar Martin en Shitaleni is van die Windhoek-gholfklub, terwyl Hentiesbaai-gholfklub uitstekend deur Van der Merwe, Beukes, Grobler en Nel verteenwoordig is.

Net drie klubs landswyd, naamlik Gobabis, Grootfontein en Tsumeb, het nie vanjaar aan die kwalifiserende rondes van die Namibiese reeks deelgeneem nie.

Die gesogte en gewilde reeks het King Price vir die volgende drie jaar as hoofborg opgeraap, terwyl ABInBev vir die pryse verantwoordelik was.



Die voorste uitslae van die eindrondte:

1 Joseph Martin/Thomas Shitaleni (83 punte).

2 Dewald van der Merwe/Jaco Beukes (82, uittel).

3 Richard Grobler/Stefanus Nel (82).

4 Desmond van Heerden/Ashley Smith (82).

5 Douglas Schoombee/Willie Prinsloo (81).

6 Joggie van Schalkwyk/Philipus Steenberg (79, uittel).

7 Dietrich Schrywer/Meriki Shoozi (79).

8 Chris Claasen/Lester Hess (78).

9 Frans Jooste/Fabie Shilongo (77).

10 Anecia le Grange/Frikkie le Grange (76) // Freddie Koch/Lombard Koch (76) // Thomas Wolff/Bertus Venter (76).

13 Justus Kuhn/Douglas Holtzhausen (75) // Abrie van Wyk/Duan Jansen (75) // Alfred Ndyenge/Toady Gurirab (75) // Theo Kafita/Luke Moller (75) // Wynand Breytenbach/Tienie de Wet (75) // Wally Bredenhann/Graeme Williamson (75).

[email protected]