Wintertoer 'n belewenis vir gesinne

Bergfietsry
Die tiende jaarlikse Winter Bergfietstoer is vanaf laas Vrydag tot Sondag suidoos van Windhoek afgehandel.

Die toer bied ryers nie net geleentheid tot nuwe uitdagings nie, maar ook tyd saam met hul gesinne, wat veral in vandag se gejaagdheid maklik vergeet kan word.

“Nuwe uitdagings is aangepak, nuwe vriendskappe gesmee en elkeen kon net weer perspektief kry op wat belangrik is in die lewe vandag. Die wedren van die lewe is vir vele gemik is op die self, wat teen 'n groot koste kom. Ons elkeen moet van tyd tot tyd stop die korrekte rigting vind,” sê die organiseerder Johan Fourie.

“Genot is waaroor dit gaan en ryers hoef dus nie bekommerd te wees oor tydsverloop of posisie nie. Elkeen word vir hul deelname beloon.”

Ryers tesame met hul ondersteuningsgroepe het die eerste waarlike winterkoue trotseer in Vrydagoggend se eerste skof van 98 km. Die temperatuur was minus 2 grade Celsius en tesame met 'n sterkerige wind het dit tyd gevat om werklik aan die gang te kom. Ryers moes buiten die weer ook heelwat sand trotseer, maar het dit met durf aangepak.

Vir Saterdag se roete (96 km) was die temperatuur bietjie warmer en eintlik 'n baie aangename dag.

Sondag het 'n paar groeplede die Kalahari-sand aangedurf en net 'n oggend in die natuur geniet.

“Ons was weereens gehuisves deur Saroa Lodge waar Albert en Carina Hufnagel en hul span wat na die groep omgesien het. Ons kon ontspan en net die buitelug geniet terwyl ons met warmte bedien was.”

Ryers wat oor die naweek nuwe persoonlike langste afstande voltooi het, was Chastin Bassingthwaighte (61,1 km), Maryna Opperman (50 km), Annika de Klerk (6 jaar, 8 km), Thinus de Klerk (5 jaar, 8 km) en Nicholas de Klerk (3 jaar, 500 m met ‘n “push along” fiets op grondpad).

Die toer het buiten die eerste twee jare geen titelborg gehad nie, maar anonieme individue tree jaar ná jaar na vore. Buiten hiervoor was daar ook die volgende bydraende borge: Superspar The Grove, Cymot, Ai-Aiba the Rock Painting Lodge, Omandumba Guest Farm, Chiwani Safari Camps, Saroa Safari Lodge, Pupkewitz Toyota, Rhodes Foods, CPIR (Contrive Polygraph and Industrial Relations).

Volgende op die kalender vir Johans Training Center is die jaarlikse 3Passes-bergfietstoer vanaf 18-20 Oktober.