Reeks hervat wat Afrika-ysters help smee

Bergfietsry
Met 'n nuwe uitleg van die roete doen organiseerders hul deel om dinge vars en interessant te hou.
Tielman Van Lill
Nadat 'n maand sedert die eerste byeenkoms verloop het, maak bergfietsryers in die Nedbank Rock & Rut Olimpiese veldresies-reeks môre hul terugkeer tot die Farm Windhoek IJG Trails se roetes in Kleine Kuppe.

Nuwe gedeeltes is op die roetes uitgelê, wat vars uitdagings aan die ryers stel en aanpassings in strategie van die ryers sal vereis.

Hanso Diehl, voorsitter van die Rock & Rut-bergfietsklub, sê hulle sien uit na 'n opwindende byeenkoms.

“Die reeks staan sterk, soos altyd. Ons het 'n mate van groei in deelname gehad. Dis iets wat ons nie as vanselfsprekend aanvaar in 'n reeks wat reeds soveel jare aan die gang is nie.

“Ons sal ná afhandeling van die hoofwedrenne vir alle ouderdomsklasse ’n prettige aflosresies aanbied. Dié pretwedren was verlede jaar 'n treffer. Ryers van spanne word lukraak getrek en die spanne ry teen mekaar op 'n kort baan. Dit gaan alles oor pret.”

In 2023 het meer as 70 fietsryers van jonk tot oud aan die reeks deelgeneem, waar Nicola Fester en Simon Kaita die elite vroue- en manskategorieë gewen het.

Roger Surén en Delsia van Vuuren, verlede jaar se o.16-kampioene, het onlangs die waarde van hierdie leerskool beklemtoon toe hulle in Marokko aan hul eerste Afrika-kampioenskap as UCI junior klas (o.18) meegeding en beide hul eerste kontinentale kampioenskap verower het.

Die formidabele talent van Alex Miller, Vera Looser en vele ander ysters van Namibiese fietsry is die afgelope jare in hierdie reeks gesmee.

Die volgende twee wedrenne in die reeks sal by 'n ander venue aangebied word, wat die organiseerders opgewonde is om binnekort te kan aankondig.

[email protected]