'Oom' Dash skud vere reg vir sy 20-jaarvieringe

Bergfietsry
Inskrywings vir die 2024 Nedbank Desert Dash-bergfietstresies open aanstaande maand.
Tielman Van Lill
Deelnemers aan die Nedbank Desert Dash sal opnuut vanjaar op Vrydag 6 Desember vanaf die Grove-inkoopsentrum in die hoofstad na Swakopmund se Platz Am Meer-waterfront vir die ikoniese geleentheid wegspring.

Die Dash word nou 'n “oom” wat vanjaar ‘n volle twintig jaar agter die blad sal hê. Selfs verskeie babas wat ná die Dash se ontstaan gebore is, het reeds die wêreldbekende uitdaging met sukses aangepak.

Die organiseerders sê ‘n geskatte 1 200 ywerige bergfietstentoesiaste word by die 2024-byeenkoms verwag.

Ryers het 24 uur om die 397 kilometer te voltooi. Bekende bakens soos die Kupferbergpas, Kuisebrivier, Boshua- en Spreetshoogtepas, Bloedkoppe, Namib Naukluftpark, die maanlandskap, Goanikontes, Rössmund-gholfklub en Swakoprivier sal soos getroue ou vriende geduldig vir die moedige ryers wag.

Vir die minder geharde of brawe ryers word die halwe Dash weer aangebied nadat die vorige kere goeie terugvoering ontlok het. Halfpad beteken geensins dit is maklik of blote afdraand nie. In 2023 moes solo-ryers steeds in die middernagtelike ure halfpad tussen Windhoek en Swakopmund wegspring om die ongeveer 198.5 kilometer na die eindpunt te takel.

Tweeryerspanne sal komende Desember wel die solo-ryers in die donker geselskap kan hou.

Selma Kaulinge, bestuurder van Nedbank Namibië se kommunikasie en openbare betrekkinge, sê: “Ons is ongelooflik trots om die 20-jaar-kerf van die Desert Dash te bereik.

“Dit gaan nie net oor die wedren nie, maar om gemeenskapsgees te bevorder, 'n gesonde leefstyl te bevorder en 'n platform te bied waar ons plaaslike fietsryers kan floreer.

“Met die inskrywings wat op die punt staan om oop te maak, moedig ek al die ryers aan om te registreer en saam met ons 20 jaar van hierdie wonderlike resies te vier.”



Wanneer kan jy inskryf?

Inskrywings vir solo-ryers (beide afstande) begin om 10:00 op 3 Junie, terwyl inskrywings vir tweeryerspanne vir beide afstande op 10 Junie om 10:00 open.

Vierryerspanne sal tot 17 Junie moet wag en kan tienuur die oggend die nodige formaliteite afhandel. Dié kategorie is verreweg die mees gewilde opsie vir deelnemers en was in vorige jare binne sekondes uitverkoop.

Organiseerders het 'n afsonderlike nuwe ouderdomskategorie vir ryers ouer as 50 jaar vir die solo-Dash ingestel. Prysgeld vir eerste, tweede en derde plekke sal aan beide manlike en vroulike deelnemers in die kategorie gebied word.

Vanjaar se byeenkoms bied vir die eerste keer aan tweeryerspanne die half-Dash aan as ‘n opsie wat aan geen ouderdomsbeperking onderwerp word nie.

Alle deelnemers moet egter reeds 16 jaar oud wees om in die Dash te mag wegspring.



Die 2023 Dash

Vier-en-twintig solo-vroueryers het verlede jaar in die pad geval. van wie tien van Suid-Afrika en sewe van Namibië.

Die solo-mans was 166, van wie 72 Namibiërs en 59 Suid-Afrikaners was.

Die wenners vir 2023 is Konny Looser (solomans) en Belinda van Rhyn (solovroue), Philip Buys en Alex Miller (tweemanspanne), Melissa Hinz en Anri Greeff (tweevrouspanne), Michael Falk en Irene Steyn (gemengde tweeryerspanne), Ingram Cuff, André Vermeulen, Clinton Hilfiker en Gerhard Mans junior (viermanspanne), Nicole Spangenberg, Genevieve Weber, Tarien van Zyl en Monika Szczepan-Kruger (viervrouspanne) en die tienerjariges Ada Kahl, Adrian Key, Delsia Janse van Vuuren en Justus Beulker (gemengde vierryerspanne).

Solowenners vir die halwe Dash was Stefan van Doorn (mans) en Anri Parker (vroue).



Die koste

Die inskrywingsfooie en kategorieë is soos volg.

Solo N$4 000 / Tweeryerspanne N$7 000 / Vierryerspanne N$14 000.

Halwe Dash

Solo N$4 000 / Tweeryerspanne N$7 000.

Deelnemers kan voordat die inskrywings aanstaande maand oopmaak, vir ‘n vroeë inskrywing aansoek doen. Slegs 80 plekke is vir spanne beskikbaar waarvan 20 vir vierryerspanne beskore is.

Spanne wat belangstel, kan 'n e-pos na [email protected] stuur. Indien ‘n span so gelukkig is om ‘n plek los te slaan, sal hulle verplig wees om binne 24 uur te betaal. Die totale koste vir ‘n vroeë inskrywing is N$21 000. Hiervan gaan N$7 000 vir die liefdadigheidsaak waarop die organiseerders besluit.

Vir meer inligting oor die Desert Dash kan www.desertdashnamibia.com besoek word.