Miller jaag weer ná gebreekte hand

Bergfietsry
Andrew Poolman
Ná die fraktuur in sy hand wat Alex Miller se deelname aan die Olimpiese Spele in Parys bederf het, het hy Saterdag ‘n suksesvolle terugkeer tot kompetisie gemaak deur derde in die 2024 King Price Race to the Sea klaar te maak.

Die Namibiër se spanmaat van die Suid-Afrikaanse beroepspan Toyota Specialized, Matt Beers, was vir die vierde jaar op ‘n streep die algehele wenner van die resies deur die aanskoulike landskap van die Wes-Kaap, met nog ‘n Suid-Afrikaner, Marco Joubert, derde.

Beers se resiesondervinding was deurslaggewend op die uitdagende roete oor 100 myl (160 kilometer) vanaf Franschhoek na Hermanus, wat ook klimwerk van 2300 meter bevat het.

Die roete het meestal uit grondpad, teerpad en enkelspoorpaadjies bestaan. Sommer vroeg het die kragtoets van die sewe kilometer steilte van die Franschhoekpas die ryers aan die voorpunt uitgedun, met Beers wat ook hier die titel as koning van die berge ingepalm het.

Beers se wentyd van 4 ure 28 minute 50 sekondes het hom voor Joubert (4:31:44) en Miller (4:33:29) laat klaarmaak.

Nog ‘n gebore Namibiër, Marc Pritzen, was vyfde ná Pieter du Toit, met Wessel Botha (sesde) en Casper Kruger (sewende) volgende.

Die Namibiese o.23-ryer Kevin Lowe se 22ste posisie was een voor die Suid-Afrikaner Philip Buys, wat ook ‘n vorige professionele spanmaat van Miller is.

Die vrouewenner, Suid-Afrika se grondpadkampioen Danielle Strydom, was onlangs die Namibiër Vera Looser se spanmaat toe die twee in Switserland die silwermedalje by die vyfdaagse SPAR Swiss Epic ingepalm het.