Laaste WPP-resies lewer jaaggenot

Padfietsry
Die profiel van die Tony Rust-baan en formaat van kompetisie het dinge interessant gehou.
Tielman Van Lill
Die Windhoek Pedal Power-padfietsryklub se sesde en laaste byeenkoms van sy jaarlikse reeks byeenkomste met Nedbank as hoofborg, is Sondagoggend by die Tony Rust-renbaan wes van die hoofstad beslis.

Dié kompetisie was vir die eerste en enigste keer in vanjaar se reeks ‘n kriterium-resies waar die elite mans vir 40 minute om die baan moes moes jaag en dan in die laaste baanrondte sake na die eindstreep moes uitspook.

Die profiel van die baan, met ‘n lang kronkelende opdraand en vinnige steil afdraand, het ook gehelp om die kompetisie interessant te hou.



Spankompetisie

By die mans het Hollard Insurance sy oorheersing van die afgelope seisoen voortgesit. Drikus Coetzee, Jaques Hanekom, Ingram Cuff, Adrian Key, Gerhard Breed en Horst Neumann het ná ses byeenkomste met 125 punte as kampioene geëindig, met Cymot A tweede op 123 en Mannie’s Bike Mecca (MBM) derde met 110.

Cymot het Sondag wel 18 punte opgeraap, maar dit was nie genoeg om Hollard Insurance (wat 24 punte verdien het) verby te steek nie. MBM het Sondag sy finale posisie ‘n stewige hupstoot met 17 punte gegee.

Die Cymot-span word deur Murray Koch, JG van der Westhuizen, Kai Pritzen en Gino Chiappini aangevuur.

Die MBM-span se enjinkamer het vir Brandon Plaatjies, Justus Beulker, Michael Falk en Xavier Papo in die saal.

Die individuele resies op die dag is deur Drikus Coetzee in 47 minute 32 sekondes gewen, met Martin Freyer (Hollard Life) tweede in 49:29 en Jacques Hanekom derde (50:31).

• Die elite vroue-spanafdeling is in geheel deur Hollard verower, terwyl Cymot en MBM onderskeidelik tweede en derde eindig.

Hollard spog ná ses byeenkomste as kampioenspan met 82 punte, Cymot met 50 en MBM het 47 behaal.

Die Hollard-spanlede is Anri Greeff, Melissa Hinz, Lelani Swart, Elanor Grassow en Chrystal Freyer.

Cymot: Jean-Marie Mostert, Nicola Fester, Sonja Hennes en Madison Mann.

MBM word deur Genevieve Weber, Maja Brinkmann, Irene Steyn, Ada Kahl en Monique Schmid verteenwoordig.

By die vroue was Anri Greef en Melissa Hinz opnuut aan die voorpunt, onderskeidelik eerste en twee in 37:53 en 38:34. Genevieve Weber was derde in 38:51.

Die vroue het 30 minute plus een baanrondte gery.

Die manswenner Drikus Coetzee vertel: “Die resies was wel aan die korter kant, maar harder met ‘n hoër intensiteit as waaraan ons normaalweg in die WPP-kompetisie gewoond is. Ons het daarin geslaag om elf baanrondtes te voltooi, wat die hoë pas weerspieël waarteen ons van die begin tot die einde gejaag het.

“Ek het daarin geslaag om tydens die tweede baanrondte saam met drie ander ryers weg te breek. Ek het sterk gevoel en het besluit om die pas te versnel. Namate die wedren gevorder het, het ek die twee ryers afgeskud en die laaste twee rondtes alleen gery.

“Ek het geweet ons span (Hollard Insurance) het op die uiteengesette naelritgedeeltes al die punte en sekondes nodig wat op die dag beskikbaar was om Cymot te oortref.

“Ons het daarin geslaag om die nodige punte te kry en is bly om ook die spanreeks te kon beklink. Dit wys die ryers se toewyding tot die einde toe. Oor die algemeen was dit nog 'n suksesvolle WPP-reeks vir myself en my span.”

[email protected]