Karibib se hart oop vir Dagbreek

Padfietsry
Die fondsinsameling ten bate van Dagbreek was 'n reusesukses.
Tielman Van Lill
Die Dagbreek skool vir intellektueel gestremdes in Klein Windhoek se Cycle for Disability-padfietsresies oor 100 kilometer tussen Karibib en Kwetu-padstal, is deur Drikus Coetzee in die elite mansresies in 2 ure 21 minute en 15 sekondes gewen.

Kwetu ,wat tuiste beteken, is by Wilhemstal geleë.

In die elite vroue-afdeling het Marissa Mouton die 100 km-resies in 3:08:31 ingepalm. Ingram Cuff het ‘n breukdeel van ‘n sekonde ná Coetzee oor die eindstreep gejaag met Piet Loubser van Suid-Afrika kort op Cuff se agterwiel.

Die byeenkoms is deel van die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) se padfietsreeks en die gebruiklike tydhouer, Johan Pretorius van Raceday Events, het die ryers se tye elektronies gemeet.

‘n Sterk wind uit die ooste het die ryers in die 100 en 60 km-resiese teenstand gebied, maar dit het nie Coetzee en sy twee makkers aan die voorpunt se spoed gebreek nie. Hulle het steeds teen ‘n gemiddelde snelheid van 42.48 kilometer per uur die roete tussen Karibib en Kwetu-padstal kafgedraf.

Coetzee, wat ook die resies se hoofborg Indongo Toyota verteenwoordig, het kort ná die resies aan Sport Wrap gesê: “Dit is vir ‘n slag ‘n nuwe byeenkoms met ‘n nuwe roete.

“Soos dit met enige nuwe byeenkoms aan die begin gaan, was die inskrywings vir die elite ryers, 60 en 30 km (46 ryers) kleinerig. Maar dit het niks afbreuk gedoen aan aan die intensiteit van en mededinging tussen ons nie.

“Hierdie kompetisie gaan ‘n jaarlikse instelling word en die byeenkoms sal aanhou groei,” het hy voorspel.

Jacky Shipanga het die 60 km vir vroue in 2:04:04 gewen, terwyl Max Schafer die 60 km mansafdeling in 1:53:47 ingepalm het.

Fezell Gens (2:54:52) en René Strauss (2:55:39 was onderskeidelik tweede en derde ná Shipanga. Anthony Drotsky (1:53:48) en Craigen Bester (2:03:50) het kort ná Schafer ingeklok.

Shipanga, wat alleen met die wind moes stoei, het opgeruimd gesê: “Sjoe, die wind was sterk, maar dit was lekker! Ek is beslis volgende jaar terug vir die kompetisie.”



30 km, voorste uitslae:

Vroue: 1 Ndapewa Lileka (2:07:20).

Mans: 1 Dewald Douglas (1:14:30), 2 Mervin Kambiri (1:15:13), 3 Ebben Ezer Iita (1:16:04).

Borge: Indongo Toyota, QKR Navachab Gold Mine, Klippenberg Lodge, Kwetu-padstal, Network Television (NTV), Network Media Hub (NMH), OK Foods Karibib, Flamestone, Hartklop FM, Radio Electronics, Coke, RMB, Kanaal 7, Wimpy, Stuttafords, SBS Trucking, We Care (Woermann Brock), Cycletec, Virgin Active, Vivo Energy, Oshitenda Business Group, The Sign Shop en Grove Mall.

[email protected]