Juniors blink uit in UCI-wedren by IJG Trials

Bergfietsry
Oorwinnings vir twee van die gunstelinge, Roger Surén en Delsia Janse van Vuuren, in die UCI junior kategorieë (o.18) teen Suid-Afrikaanse uitdagers was hoogtepunte vir Namibië by laas Saterdag se Nedbank veldresies-bergfietsreeksbyeenkoms waar ook UCI-ranglyspunte van die sport se wêreldbeheerliggaam op die spel was.

Surén, wat tans boaan die junior mans wêreldranglys is, het by die IJG Trials in Kleine Kuppe die aanslag van Suid-Afrika se Samuel Cleary met nagenoeg twee minute afgeweer. Hul resies was oor ses baanrondtes.

“Op my tuisbaan het ek die voordeel gehad. Ek ken die Suid-Afrikaanse ryers van vorige ontmoetings en ek moes nogal hard werk om hulle van my agterwiel af te skud.

“Ek hou baie van hierdie baan, met dele waar jy eksplosief kan versnel. Van die beste ryers in die wêreld neem nie noodwendig aan dieselfde resiese as ons deel nie, maar ek dink dis ‘n hupstoot om in sulke hoë geselskap gereken te word,” het Surén gesê.

Janse van Vuuren was in haar skik dat sy nie net die UCI junior vroueresies gewen het nie, maar ook van die elite vroue ingehaal en verbygesteek het wat twee minute voor haar groep weggespring het.

Janse van Vuuren het haar vier baanrondtes in 59 minute 25 sekondes voltooi. Tweede was haar landgenoot Rosemarie Thiel (1:02:01), wat ook die gedugte Suid-Afrikaanse ryer Errin Mackridge (1:03:29) geklop het.

Mackridge het die volgende dag haar staal op die padfiets getoon met die algehele tweede posisie in die Nedbank Cycle Challenge, met net die wenner Anri Greeff voor haar.

Suid-Afrika se sterker ryers het die elite resiese oorheers, met eerste plekke vir Lilian Barber by die vroue en Michael Foster by die mans.

Die voorste Namibiërs in elite resiese was Anri Greeff (tweede), die padfietsspesialis en nasionale kampioen wat selde in die veldresies-formaat meeding, Monique du lessis (derde) en Justus Beulker (o.23; sewende).