Eindstreep boaan Matchless wag vir nuwe kampioene
Padfietsry
Vera Looser en Drikus Coetzee sal nie dié naweek hul gesogte Namibiese padfietstitels verdedig nie. Die Namibiese Fietsryfederasie (NCF) bied die komende naweek die Nedbank Namibiese nasionale padfietskampioenskappe wes van die hoofstad aan.’
Soos gebruiklik is die individuele tydtoets vandag eerste aan die beurt, gevolg deur die padresies Sondagoggend.
Die professionale bergfietsryer Alex Miller is wel ingeskryf en op die roete van 160 kilometer sal dit keer kos om hom te weerhou om op sy elite padfietskroon van 2019 en 2024 voort te bou.
Looser het gister by die Tankwa Trek-bergfietstoer in die Wes-Kaap weggespring, terwyl Coetzee in Marokko is vir die Atlas Mountain Race ultra-byeenkoms oor 1 305 km wat vandag begin.
Ongeag die 31-jarige Looser se uitsonderlike loopbaan oor die wêreld heen, gaan sy uit haar pad vir die nasionale kampioenskap en het sy loop dit baie selde mis. Looser se elf nasionale titels sedert 2012 spreek boekdele van die gedugte teenstand wat sy bied.
Drikus Coetzee (nasionale padresieskampioen in 2021 en 2022; ses keer nasionale tydtoetskampioen tussen 2018 en 2024) se stamboek spreek vanself. Die belowende Theuns van der Westhuizen (19) ry ook die Tankwa Trek nadat hy as ‘n laat plaasvervanger vir ‘n RSA-ryer die kans aangegryp het.
In hul afwesigheid word manne soos Martin Freyer (kampioen in 2018), Jaques Hanekom, Danzel de Koe, Brandon Plaatjies, Adrian Key en Justus Beulker uitgewys as potensiële spelers aan die voorpunt.
In die vroueresies (106.6 km) is Anri Greeff puik op dreef en ‘n sterk gunsteling om die aanslag van uitdagers soos Olivia Shililifa en Monique du Plessis te bowe te kom. Sondag kan haar eerste nasionale titel wees, ná derde posisies in 2023 en 2024.
Meer klimwerk
Die Matchless-pad (C28) sal met sy skerp klimme beide vandag en Sondag ‘n groot rol in die ryers se vertonings speel.
Die nasionale afrigter, Hans du Toit, voorspel: “Die roete het die meeste klimme wat ons in die laaste 13 jaar vir die nasionale padresies gehad het. Die roete is dus in die guns van goeie klimmers. Vir die eerste keer sal die eindstreep ook boaan ‘n harde klim by Matchless wees.”
Groot eer
Die byeenkoms bied opnuut aan ryers die geleentheid om belangrike punte op die UCI-ranglyste te verdien, asook om die gesogte nasionale trui in die UCI-klasse (elite, o.23 en junior o.18) vir mans en vroue te verwerf, wat in beide die individuele tydtoets en padresies geld.
Namibië maak steeds opgang om sy status as een van Afrika se voorste fietsrylande te verstewig. Die land word tans vierde en 12de in die vroue- en manspadrenkategorieë in Afrika gereken. Namibiese fietsryers lewer gereeld puik prestasies op die kontinentale verhoog.
Verlede jaar was 'n mylpaal vir Namibiese fietsry. Alex Miller het ‘n geskiedkundige goue medalje by die Kontinentale Afrika-kampioenskap opgeraap en Vera Looser het die eerste Namibiese vrou in die geskiedenis geword wat 'n Olimpiese padwedren voltooi het.
Afstande vir die tydtoetse (vanaf 15:00)
Elite en o.23-mans: 39 kilometer (2 rondtes van 19.5 km).
Elite en o.23-vroue: 19.5 km (1 rondte van 19.5 km).
Junior vroue en mans, subveteraan vroue en mans, veteraan vroue en mans, meester vroue en mans, grootmeester vroue en mans, onder 16 meisies en seuns asook onder 14 seuns: 19.5 km.
Onder 14 meisies, onder 12 meisies en seuns asook onder 10 meisies: 13.7 km.
Afstande en tye vir padresies
Elite en o.23-mans: 160 km (06:30).
Elite en o.23-vroue: 106.6 km (06:37).
Junior mans: 106.6 km (06:35).
Junior vroue: 79.5 km (06:40).
Subveteraan en veteraan mans: 106.6 km (06:45).
Onder 16 seuns, subveteraan- en veteraanvroue, meestersmans: 79.5 km (06:50).
Onder 14 seuns en grootmeestersmans: 41 km (06:53).
Onder 16 meisies en meestersvroue: 41 km (06:55).
Grootmeestersvroue: 28 km (06:55).
Onder 12 seuns en onder 14 meisies: 28 km (07:00).
Onder 10 meisies en seuns, onder 12 meisies: 13.7 km (07:00).
Rolspelers
Die president van die NCF, Tauko Shilongo, het die groei van die sport en die rol van nasionale byeenkomste in die vorming van toekomstige kampioene uitgewys.
“Namibië se fietsryprestasies is 'n massiewe kompliment vir ons nasie. Ons konsekwente posisie onder die topfietsrylande in Afrika is 'n weerspieëling van die harde werk en toewyding van die NCF, ons atlete, afrigters en borge soos Nedbank. Ons is opgewonde om te sien wat die toekoms vir Namibiese fietsry inhou,” het hy gesê.
Nedbank Namibië is lank reeds ‘n steunpilaar van sportontwikkeling in die land.
Selma Kaulinge, Nedbank se kommunikasiebestuurder, sê: “By Nedbank glo ons daarin om Namibiërs te bemagtig om hul drome te verwesenlik. Ons vennootskap met die NCF is 'n bewys van ons verbintenis tot die bevordering van uitnemendheid in sport. Fietsry is nie net 'n sport nie, dit is ’n platform vir eenheid, gesondheid en nasionale trots.”
Die prysuitdeling is Sondag 14:00 op die sewende vloer van die Nedbank-kampus.
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article