Drikus voeg Le Dur by sy Munga-prestasies

Bergfietsry
Die ruwe terrein, hitte en sterk wind van voor was niemand se speelmaat nie.
Tielman Van Lill
Drikus Coetzee het Saterdagoggend ná 24 uur en 22 minute die eerste geskiedkundige The Munga Grit Le Dur-bergfietsmarathon oor 556 kilometer in Namibië se Erongostreek gewen.

Deelnemers het 50 uur gehad om die 556 km te voltooi, of die korter weergawe van 24 uur. Met vorige rekordtye in Munga-wedrenne was “Die Masjien” vooraf die volslae gunsteling, hoewel hy in die laaste weke sedert die aankoms van die eerste Coetzee-baba met sy oefenprogram afgeskaal het.

Jaques Hanekom was tweede in 27:45, met Martin Freyer derde in 28:30. Fanus Bredenhann, Clinton Hilfiker, Theo Klein Stephan Schoeman, Maruen Kleopas en Colin Smith (negende) het gevolg.

Die 54-jarige Martie Joubert van Suid-Afrika was die enigste vrou wat die 556 km in 31:45 voltooi en algeheel tiende klaargemaak het.

In die 24-uur-uitdaging was Melissa Hinz in 13 uur 30 minute die vrouewenner en algeheel tweede, met Anri Greeff volgende oor die eindstreep (13:52) en Anja Boshoff derde in 16:40 (algeheel 12de).

In die mans se 24-uurrit het Gareth Jooste (12:52), Hardus Nel (13:20), Murray Koch (13:20) en Ben Cronjé (13:40) die eerste vier plekke ingeneem.

Coetzee het aan Sport Wrap gesê: “Die Munga Grit Le Dur was ‘n goeie ervaring. Die roete het aanvanklik op papier nie so moeilik gelyk nie, maar dit was tot nou die moeilikste van die Mungas wat ek nog gery het.

“Met die oosweer in volle swang, het die tierende ooswind genadeloos vir die eerste 100 km reg van voor gewaai met temperature wat 40 grade Celsius en meer bereik het.

“Ek dink die meeste ryers het by 100 km tou opgegooi. Die omstandighede was baie moeilik; veral die eerste 100 km was erg en ook die gedeelte tot by Omaruru (260 km) waar die pad links gedraai het.

“As ryers die kompetisie suksesvol wou voltooi, moes hulle die eerste 260 km afhandel voordat hulle die besluit kon neem om te stop of tot die einde vol te hou. Ek dink te veel ouens het te vroeg die handdoek ingegooi, maar soos ek gesê het, dit was ongelooflik taai.

“Dit was ‘n sielkundige oorlog. Ek is baie bly dat ek my pas opnuut op die fiets kon lees en ‘n goeie resultaat behaal het. Ná drie weke van die fiets af voel dit goed om terug te wees waar ek hoort.

“Die byeenkoms was absoluut puik deur die organiseerders gereël. Die roete is baie goed gekies. Baie geluk aan al die ryers wat suksesvol was.”

The Munga Grit Le Dur het Vrydagoggend sewe-uur by die Windpomp 14-vakansieoord by die kus weggespring en ná draaie verby Spitzkoppe, Omaruru, Uis en Hentiesbaai weer by die beginpunt geëindig.

[email protected]