Drikus en nog ses Namibiërs takel The Munga
Fietsry
Ná laas naweek se Swellendam Double Century (202 km) is The Munga (1 132 km) op Drikus Coetzee se spyskaart voor die Nedbank Desert Dash (401 km). En daarna wag die Atlas Mountain Race vroeg volgende jaar in Marokko (1 350 km).
The Munga se verdedigende kampioen en solorekordhouer, Drikus Coetzee, het gister om 12:00 saam met sy landgenote Pierre Lambert, Nabil Robiati, Francois Smit, David Weber, André Snyman en Leonard Martin vanaf Bloemfontein vir die reusebergfietstog oor 1 132 kilometer na die Doolhof-wynlandgoed naby Wellington in die Wes-Kaap weggespring.Drikus “Die Masjien” het verlede jaar The Munga gewen en in sy doelwit geslaag om ‘n nuwe rekordtyd van slegs 47 uur en 37 minute op te stel.
Hiermee het hy Ramses Bekkenk van Nederland se vorige rekord in 2018 (50:30) met 2 ure 53 minute teen ‘n verbysterende gemiddelde spoed van 23.77 kilometer per uur verpletter.
Maar hierdie keer is Coetzee nie in Suid-Afrika om rekords te verbeter nie. Hy is wel daar met ‘n doel en het ook laas naweek die speke laat sing, terwyl hy planne vir die 2024 Nedbank Desert Dash smee.
“Ek gaan nie my Munga-rekord jaag nie. Ek wil wel graag die eerste ryer word wat The Munga twee keer agtereenvolgens wen.
“Ek het laas Saterdag die Swellendam Double Century oor 202 kilometer gery en tweede geëindig. Dit was ‘n lekker losmakertjie.
“Anders as verlede jaar toe ek in ‘n viermanspan gery het, gaan ek volgende Vrydag die Nedbank Desert Dash in die solo-afdeling pak. Ek wil bitter graag die Dash-podium haal, ” het Coetzee aan Sport Wrap verduidelik. Hy het die Dash se solo-manstitel in 2022 gewen.
“My plan is om tydens The Munga meer slaap te kry as verlede jaar, toe ek vir net 16 minute ‘n uiltjie geknip het. Ek wil die Dash so vars as moontlik ry.”
Vier-en-twintig van die 245 deelnemers wat gister in Bloemfontein vir die tiende Munga weggespring het, is vroueryers.
Drikus sal ook vroeg volgende jaar die Atlas ultra-bergfietsresies in Marokko vir die tweede keer in twee jaar die stryd aansê. Die moordende kompetisie van meer as 1 350 kilometer deur berge en dale vind van 7 tot 15 Februarie plaas. Deelnemers spring in Marrakesj weg en eindig by Essaouira teen die see.
In sy Atlas-debuut in 2024 het Coetzee vir vier dae en vier nagte in ‘n onwrikbare tweestryd aan die voorpunt die gedugte Justinas Leveika van Litaue tot ‘n nuwe rekordtyd gedruk, voordat die Namibiër weens dehidrasie, slapeloosheid en uiterse uitputting ineengestort het sowat 58 kilometer voor die eindstreep.
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article