Driekamper Julika eindig sterk in Cape Epic

Bergfietsry
Julika Pahl, met Namibiese kleure in drie sportkodes, woon deesdae in Switserland.
Andrew Poolman
Van die prominente Namibiese fietsryers wat by die onlangse Absa Cape Epic bergfietstoer uitgeblink het, was Julika Pahl se silwermedalje saam met Linda Detering van Suid-Afrika in die vroue ope-kategorie waarskynlik die minste verwag.

Pahl, meer bekend as ‘n driekampatleet wat tevore onder meer die FNB Sandman-byeenkoms by Swakopmund gewen het, en haar spanmaat was ná elke dag se skof op die podium en het twee skofte gewen (skofte 3 en 7).

Ná agt dae, 567 kilometer en 15,600 vertikale klimmeters was hul totale tyd (35 ure 13 minute) net meer as 31-en-’n-halfminuut agter die kategoriewenners Rouxda Grobler en Mikaela Hagemann, beide van Suid-Afrika.

Die 31-jarige Pahl het Namibiese kleure in triathlon (onder meer by een Afrikaspele), rolskaatshokkie en muurbal.

“Ek het drie jaar gelede na Switserland verhuis vir werkdoeleindes. Nog ‘n sterk oorweging was ‘n veiliger omgewing as ‘n vrou wat aan verskeie sporte deelneem.”

“Dit was ons eerste Cape Epic, maar ons het die Swiss Epic twee jaar gelede saam gedoen, waar ons die ope vrouekategorie gewen het en dus ons plek in die Cape Epic verdien het.

“In die geheel het ons 'n wonderlike tyd beleef. In terme van weersomstandighede het ons elke variasie van uiterse hitte, reën en modder ondervind.

“Beide van ons geniet die enkelspoorpaadjies die meeste en was ook die meeste mededingend op daardie dele. Ongelukkig kon ons nie die voorste vrouespan inhaal nie, maar ons doelwit is beslis om terug te keer en die ope kategorie te probeer wen.

“Ons was gelukkig dat geen tegniese probleme ons getref het nie en ons het ook baie goeie voorbereiding van ons afrigter Lucas Worth gekry. Ek moes in Switserland voorberei, so ek moes baie spesiale oefensessies doen om hitte te simuleer. ‘n Mens moes so warm as moontlik aantrek en jou liggaamstemperatuur tot op 'n sekere punt kry en in daardie toestand op die binnenshuise oefenfiets werk.

“Die voorbereiding was baie interessant en taai, maar dit lyk of dit goed gewerk het, aangesien ons ons beste resultate in die skofte op die warmste dae gehad het.

“Ek doen steeds triathlon, maar ek hou ook daarvan om as fietsryer aan hierdie meerdaagse skofwedlope deel te neem.

“Ons volgende doelwit vir vanjaar is die Andorra Epic (3 tot 6 Julie), wat laas jaar oor 200 km met 6400 klimmeters beslis is. Ons het nog nie ingeskryf nie, maar ons beplan en hoop om dit te doen.

“Ek hoop ook om op amateurvlak vir die wêreldkampioenskap in grondpadresies te kwalifiseer.

“Ek is nie seker of ek weer vanjaar aan die Xterra-wêreldkampioenskap in triathlon gaan deelneem nie, maar dit sal 'n doelwit vir volgende jaar wees. Ek en my broer Sebastian (ook bekend in triathlonkringe) beplan ook om aan die einde van hierdie jaar die RMB Ultra-Trial Cape Town se 100 km-roete te voltooi.

“Ons ondervinding is dat die Cape Epic uitstekend georganiseer is. Die kos was wonderlik, ons kon elke dag ons fietse behoorlik skoon was en die atmosfeer by die waterpunte en by die eindpunte was elektries. My spanmaat is ook ‘n energieke persoonlikheid en ek is seker sy het ‘n impak op vele van die ander ryers gemaak.

“Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van Gondwana. Ons was ook gemotiveer om vir Seawork Cares te ry en hulle inisiatief te bevorder.”