Yanks spel gevaar vir Emirate en Eagles

Krieket
Die Richelieu Eagles speel môre vanaf 09:30 teen die Emirate, gevolg deur hul Sondag-herontmoeting met die VSA.
Tielman Van Lill
In die tweede internasionale eendagwedstryd (ODI) in die driehoekige minireeks van die ICC Wêreldbeker Liga Twee-kompetisie tussen die Verenigde Arabiese Emirate en die VSA in die Namibiese hoofstad, het die Amerikaners gister hul teenstand maklik uit die pad gevee.

Die betreklike onervare span van die Emirate (106 almal uit in 31.2 boulbeurte) is by die Unitedveld in Olympia met tien paaltjies deur die VSA (107/0 in 15.5 bb) oordonder.

Die Emirate se elftal het ‘n gesamentlike 207 ODI’s agter die blad en selfs hul senior spelers soos die kaptein, Muhammad Waseem (48 ODI’s), Basil Hameed (40) en Muhammad Siddique (46), het dit nie juis reggekry om vanaf die voorpunt te lei nie.

Die onervare aanvangkolwer Aryansh Sharma (7 ODI’s), Rahul Chopra op vyf (3) en Ali Naseer op agt (9 ODI’s) het onderskeidelik 31, 32 en 23 lopies bygedra. Die Emirate se telkaart was met vyf nulletjies deurspek.

Die VSA moes slegs teen 2.12 lopies per boulbeurt kolf om ‘n sege te behaal. Die Suid-Afrikaans gebore Andries Gous het sy ODI-debuut vir die VSA gemaak. Hy was in ‘n verwoestende bui en het sy eerste ODI-vyftigtal met 52 lopies van 35 aflewerings binne tien boulbeurte aangeteken.

Ná Gous se vertrek het Smit Patel (in daardie stadium met 16 van 23 b) die aanvallende rol oorgeneem en sy telling met 22 lopies van die volgende 18 balle opgestoot tot 38 nie uit nie. Gous se 66 sluit 12 viere en een ses van 54 balle in, terwyl Patel vyf viere behaal het.

Vir die VSA het Jasdeep Singh (speler van die wedstryd) met vier paaltjies vir 18 lopies in vyf boulbeurte gepronk. Saurabh Netravalkar (2/21 in 9, 4 leeg) in sy 50ste ODI, Nosthush Kenjige (2/20 in 6) en Milind Kumar (2/15 in 4.2) het vir die res van die verwoesting gesorg.

Junaid Siddique, Muhammad Jawadullah, Aayan Afzal Khan, Rahul Bhatia en Ali Naseer almal vrugteloos met die bal in die hand vir die Emirate.

Die Richelieu Eagles speel môre vanaf 09:30 teen die Emirate, gevolg deur hul Sondag-herontmoeting met die VSA by dieselfde venue.

Die Amerikaners het Maandag reeds hul openingswedstryd teen Namibië met ses paaltjies gewen deur die tuisspan tot 199/9 te beperk en die teiken binne 41.3 bb verby te steek. Jan Frylinck (70 van 88 balle) en JJ Smit (49 van 75 balle) het die beste in die Eagles-kolfbeurt gevaar.

Van die agt spanne betrokke in Wêreldbeker Liga Twee het die Emirate sover sy eerste vier wedstryde verloor en bevind hom aan die onderpunt. Die VSA (vierde) en Namibië (vyfde) se visier is ingestel om met die voorlopers Nederland (eerste), Kanada en Skotland saam te gesels.

[email protected]