Wanderers neem T20-titel by Old Boys af
Krieket
WHS Old Boys het op die ou einde nie genoeg skietgoed gehad om Wanderers soos verlede jaar in die eindstryd te klop nie.
In die T20-premierligafinaal van Krieket Namibië het APS Wanderers se eerste span Sondagnamiddag op sy tuisveld vir ATG WHS Old Boys met 103 lopies oorrompel.Die gasheerspan se kaptein Michau du Preez het die loot gewen en sy span eerste laat kolf. Wanderers het 210 lopies vir die verlies van drie paaltjies in 20 boulbeurte aangeteken.
Met al sy kolwers uit kon Old Boys slegs met 107 lopies in 15.4 boulbeurte antwoord.
Die blou span kon in die afwesigheid van sy gebruiklike groot kanonne Gerhard Erasmus en JP Kotzé nie die pas volhou nie, terwyl Ruben Trumpelmann (steeds op die krukkelys) en Zane Green hierdie seisoen na Trustco United oorgeskuif het.
Die aanvangskolwers van Wanderers, JC Balt (53 lopies, 44 balle, 1x4, 5x6, kolftempo 120.4 persent) en Niko Davin (48 van 31 b, 6x4, 1x6, 154.8%), het ’n stewige 80-lopievennootskap van 55 aflewerings bewerkstellig. Die duo het hul lopies teen ’n koers van 145% gejaag.
JJ Smit (27 van 16 b, 2x4, 2x6, 168.7%), Lo-han Louwrens (58 nie uit nie van 21 b, 3x4, 6x6, 276%) en Nyasha Nyashadzaishe (10* van 8 b, 1x4) het die afrondingswerk behartig.
Louwrens se puik aanvallende kolfbeurt het hom die titel as speler van die wedstryd besorg.
Shaun Fouché (2 paaltjies vir 21 in 4 boulbeurte, ekonomie 5.25 per boulbeurt) en Tangeni Lungameni (1/47 in 4, ekon. 11.75) het vir Old Boys paaltjies gevat.
Old Boys se vier topkolwers Adriaan Coetzee (1 lopie), Henry Oliver (4), Malan Kruger (4) en Francois du Plessis (0) kon net 9 lopies van 19 aflewerings op die telbord plaas.
Fouché (35 van 35 b, 3x4, 100%) en Dylan Leicher (32 van 22 b, 3x4, 2x6, 145.4%) is die enigste twee Old Boys-kolwers wat antwoorde teen die Wanderers-boulers gehad het. Jack Brassell was op 10* van agt balle en het een ses geslaan.
Vir Wanderers was Nyashadzaishe (3/12 in 3, ekon. 4) moeilik om te hanteer; bygestaan deur PD Blignaut (3/32 in 3, ekon. 10.67) en Lu-Hendro de Waal (2/1 in 4 aflewerings, ekon. 1.5). Bernard Scholtz (1/11 in 2, ekon. 5.5) en JC Balt (1/18 in 3, ekon. 6) het ook bygedra.
Grenshoue: Wanderers 27 (13x4, 14x6, 136 lopies), Old Boys 9 (6x4, 3x6, 42).
Topvyf-boulers en kolwers van die afgelope T20-premierligaseisoen
Boulers: Jan-Zak de Villiers van Wanderers (13 paaltjies), PD Blignaut (11), JC Balt (10), Francois du Plessis van Old Boys (10) en Bernard Scholtz (9).
Kolwers: JC Balt (263 lopies), JJ Smit (199), Niko Davin (161), Lo-han Louwrens (149) en Joshuan Julius van CCD Tigers (141).
Topvyf-spelers op T20-premierligaranglys
JC Balt (1 316 punte), JJ Smit (748), Lo-han Louwrens (718), Gerhard Erasmus van Old Boys (655) en Nyasha Nyashadzaishe (613).
SPELERS
Die ATG Old Boys-span: Adriaan Coetzee, Braam van Niekerk, Jack Brassell, Francois du Plessis, Shaun Fouché, Henry Grant, Henry Oliver, Malan Kruger, Dylan Leicher (kaptein), Tangeni Lungameni en Wilhelm Schultz.
APS Wanderers: JC Balt, Karl Birkenstock, PD Blignaut, Niko Davin, Jan-Izak de Villiers, Michau du Preez (kaptein), Lo-han Louwrens (paaltjiewagter), Lu-Hendro de Waal, Nyasha Nyashadzaishe, Bernard Scholtz en JJ Smit.
Die eerste bal in Krieket Namibië se eendagpremierliga (50 boulbeurte) sal volgende jaar in Januarie geboul word.
– [email protected]
Comments
Sportwrap
No comments have been left on this article