Veteraanspan streef na wenpunte teen Zim

Krieket
Johre Botha
Twee opwindende krieketwedstryde wag vandag in die Afrika-veteranetoernooi vir spelers van 50 en ouer,

By Trustco United takel Suid-Afrika se twee onoorwonne spanne, die “Proteas” en die A-span, mekaar met beide wat reeds van hul plek in die eindstryd verseker is.

By Wanderers sal Namibië teen Zimbabwe te staan kom, met beide wat alles in die stryd sal werp om hul eerste oorwinning in die toernooi te behaal.

Beide wedstryde word dus met alle erns opgeneem, nie net vir die eindposisies in die Afrika veteranekampioenskap oor 45-boulbeurte nie, maar ook vir die opbou na die veterane-Wêreldbeker in Februarie 2025.

Vir die “Proteas” en Suid-Afrika A se spelers is die wedstryd 'n belangrike kans om hulself aan die Wêreldbeker-afrigters en keurders te bewys. Die amptelike Wêreldbeker-groep is nog nie finaal gekies nie, en al die spelers in die A-span sal alles in hul vermoë doen om hul plek in die eindspan te verseker.

Hoewel Suid-Afrika A die sogenaamde "B-span" is, het dié kombinasie reeds gewys hy is in staat om die toernooi kan wen. Die Proteas sal alles moet uithaal en wys, want dit gaan glad nie 'n maklike uitstappie wees nie, met die A-span wat reeds met twee dominerende vertonings sy plek boaan die puntelys ingeneem het.

Suid-Afrika sal vir seker weer 'n sterk Wêreldbeker-groep wil saamstel, aangesien hulle die vorige toernooi se finaal teen Engeland verloor het.

Die onkeerbare spelpeil van Wiaan Smit vir die SA A-span sover, met die meeste lopies (189 in twee kolfbeurte) en tweede meeste paaltjies (vyf) het gewis die aandag op hom gevestig. Op die puntelys van individuele presteerders is hy loshande voor, met meer as dubbel soveel punte as die naaste speler.



Buurstryd

Die ander wedstryd betref tussen Namibië en Zimbabwe sal ewe intens meegeding word, met beide wat ook vir die Wêreldbeker voorberei.

Namibië het Maandag 'n skaflike vertoning in hul nederlaag teen die “Proteas” gelewer, maar Dinsdag teen Suid Afrika A, nie genoegsame antwoorde gehad op die boulers óf die kolwers van die A-span nie.

Dawie Hartzenberg en sy Namibiese span sal haastig moet hergroepeer ná die ontsaglike loesing met 305 lopies twee dae gelede teen die SA A-span, wat ‘n reusagtige totaal van 403 vir die verlies van net een paaltjie opgestel het.

Maandag het Zimbabwe 'n dapper poging aangewend teen die Proteas, maar ‘n totaal van 119 lopies was ook nie genoeg om die Proteas onder werklike druk te plaas nie. Hul boulers het wel 'n sterk poging aangewend en ses paaltjies platgetrek, maar die tekort aan lopies het tot 'n nederlaag gelei.

Vandag se wedstryde is dus van groot belang vir al vier spanne. 'n Wen sal nie net kritieke punte op die puntestand bring nie, maar ook die geestelike hupstoot gee vir die bekerfinaal en bronsfinaal wat Donderdag beslis word.

[email protected]